Bewerings van wraak is ‘bloot praatjies’

Verslaggewer – Ilse Krige

HERMANUS – Die moordtoneel waar ‘n jong man van die dorp glo voor sy vriende doodgeskiet is en hoorsê-dreigemente van wraak deur AWB-lede, het in die borgtogaansoek hier van ‘n oudonderwyser en oud-Springbokatleet ter sprake gekom. Mnr. Hendrik van Zyl Kriel (51), vermeende moordenaar van mnr. George Clarkson (21), sal eers Maandag hoor of sy borgtogaansoek toegestaan word. Kriel het Clarkson na bewering op 3 Desember in die kop geskiet en die jong man se drie gaste met onder meer ‘n bofbalkolf, ‘ n dolk of swaard en ‘n haelgeweer aangehou en aangeval. Hy is sedertdien verhoorafwagtend op onder meer ‘n aanklag van moord en drie aanklagte van aanranding. Konst. Jonwin Smith, die ondersoekbeampte, het gister in die Hermanus-landdroshof gesê dit was ‘n vooraf beplande aanval. “Die beskuldigde het benewens die wapens ook ‘n sespak bier, ‘n bottel rooiwyn, kleefband en kabelbande in sy sak gehad.” Smith het beskryf hoe Clarkson eers in die gesig geslaan is en dat Kriel hom daarna met ‘n 6.35-pistool in die kop geskiet het. Volgens Smith vrees die getuies vir hul lewe en het van hulle al uit die dorp gevlug na die voorval. Hy het getuig mnr. Clifford Clarkson, die slagoffer se pa, het teenoor hom beweer van sy vriende is AWB-lede. Hulle het glo gedreig om Kriel “uit te haal” as hy borgtog sou kry. Mnr. Ben Mathewson, vir die verdediging, het gesê die AWB-dreigemente is “bloot praatjies”. Hy het gesê Kriel se reg op ‘n billike verhoor sal in die gedrang kom as hy nie borgtog kry nie, omdat hy doktersondersoek nodig het. “My kliënt het dreigemente van vergiftiging van sy voormalige vriendin (ook een van die ooggetuies) voor die voorval ontvang. Dokterverslae toon sover dat hy wel gif ingekry het,” aldus Mathewson.

To Top