‘Brandstigter-toeris’ oor maand weer in hof’

DIE BURGER

Verslaggewer: Chantelle Nicholas

KAAPSTAD – “Die Britse toeris wat verdink word van die stigting van die verwoestende brand teen Tafelberg waarin ‘n bejaarde vrou dood is, sal aanstaande maand in die streekhof hoor wat sy lot is. Landdros Herman van der Merwe het gister beslis die saak teen mnr. Anthony Cooper (36) kan nie weer uitgestel word nie. Cooper staan in die Kaapstadse landdroshof tereg op aanklagte van strafbare manslag en brandstigting nadat ‘n natuurbewaarder glo gesien het hoe ‘n sigaretstompie deur ‘n motorvenster gegooi is. Dit het na bewering die brand in die Tafelberg-Nasionale Park veroorsaak. Cooper het vroeër vandeesweek ook op ‘n aanklag van dronkbestuur hier verskyn nadat ‘n lasbrief vroeër vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Sy prokureur, mnr. Reaz Khan, het gister aan Van der Merwe gesê die lasbrief is gekanselleer nadat Cooper later die dag sy opwagting by die hof gemaak het. Hy was nie daar toe die saak begin het nie. Me. Juanita Swart, staatsaanklaer, het aan Van der Merwe gevra of die saak uitgestel kan word omdat sy wag op ‘n verklaring van ‘n staatsgetuie en die brandverslag. Khan het op sy beurt gesê hy meen nie die saak moet weer uitgestel word nie omdat “daar nalatigheid was met die ondersoek aan die kant van die staat.” Volgens hom is daar “vandag geen verskoning vir ‘n verdere uitstel nie.” Hy het gesê as die hof die staat se versoek toestaan, sal dit lyk asof die staat se nalatigheid oorgesien word. Cooper, geklee in ‘n geel-en-swart baadjie met ‘n roomkleurige broek, het gedurende die hof verrigtinge regop in die beskuldigingsbank gestaan en effens senuweeagtig voorgekom. Van der Merwe het gesê dit is onaanvaarbaar en vreemd dat ‘n getuie se verklaring nog nie afgeneem is nie. Die saak is tot 28 Junie vir verhoor uitgestel.”

To Top