Duitser nou in hooggeregshof verhoor

DIE BURGER

Verslaggewer – Llewellyn Prince

KAAPSTAD – Die twee Duizers wat na bewering verlede jaar die seun van ‘n Milnertonse egpaar ontvoer het, sal in die hooggeregshof hier verhoor word. Die besluit is gister aan mnre. Michael Brandl (50) en Marcus Multhaler (36) oorgedra. Hulle het vlugtig in die landdroshof op ‘n ontvoeringsaanklag verskyn. Die aanklag spruit uit ‘n voorval waarin die twee na bewering op 4 Augustus verlede jaar die seun (15) van die Nederlanders mnr. Richard and mev. Myriam Weggelaar ontvoer het. Die seun is in ‘n pakhuis in Parow gevind. Brandl het na die hofverskyning ook op ‘n bedrogaanklag tereggestaan. Dit spruit uit sy beweerde geriefshuwelik met me. Luelle Naidoo van Durban. Me Fiona Cloete, senior staatsaanklaer, het aan landdros Joe Magele gesê sy het gister telefonies opdrag van die Wes-Kaapse direkteur van Openbare Vervolging (DOV) ontvang dat die twee vir die ontvoeringsaak in die hooggeregshof vervolg moet word. Volgens haar het die DOV besluit Brandl moet in die streekhof op die bedrogaanklag verskyn. Volgens haar wag die staat op die klagstaat en hofdatums in albei sake. Mnr. Keigh Gess, die twee se prokureur, het aan Magele gesê sy kliënte is ontevrede omdat die DOV slegs telefonies opdrag aan Cloete kon gee en dit nie op skrif gestel het nie. Volgens hom is die ondersoek na die ontvoeringsaak reeds in November afgehandel. Dit is onaanvaarbaar dat die DV nie gister ‘n geskrewe klagstaat of ‘n hofdatum kon indien nie. “My kliënte meen hul reg op ‘n spoedige verhoor word gesken. Indien die dokumente en die hofdatum nie tydens hul volgende verskyning ingedien word nie, sal ek aansoek doen dat die saak van die rol geskrap of dat my kliënte op borgtog vrygelaat word, ” het Gess gesê. Die beskuldigdes het reeds twee keer om borgtog aansoek gedoen, maar was onsuksesvol. Magele het albei sake tot 24 Februarie uitgestel. Brandl en Multhaler word i die Pollsmoor-gevangenis aangehou.

To Top