Lugwaardin versteek glo buit in onderklere

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

BELLVILLE – Sy het dit vreemd gevind dat die beskuldigde 500 frank in haar broekie sou druk terwyl sy tog ‘n handsak in haar hand gehad het. So het konst. Sharlene Kordom gister in die landdroshof hier getuig in die verhoor van ‘n SAL lugwaardin wat van diefstal verdink word. Sy het na bewering passasiers besteel. Die verhoor van me. Linda Charity Danie (26) van Guguletu het gister begin nadat sy in Mei 2005 in hegtenis geneem is. ‘n Ring van R10000 en reisigerstjeks van R20000 is in haar besit gevind, het die hof gehoor. “Terwyl ek haar deursoek het (nadat sy van ‘n vlug uit Londen geland het), het ek ‘n geritsel in haar panty gehoor. Ek het haar gevra wat dit is, en sy het gesê dit is geld wat sy van ‘n vriend gekry het,” het Kordom getuig. “Sy het verduidelik sy was so haastig nadat die vriend dit vir haar gegee het dat sy dit daar ingedruk het.” Sy het die beskuldigde daarna verder deurgesoek en in haar beursie op ‘n “duur goue rind” afgekom. Die ring is saam met ander juwele wat in die beskuldigde se besit gevind is, op ‘n tafel in n private kantoor by die polisie neergesit. “Ek het haar gevra oor die waarde van die ring, waarop sy gesê het dit is R10000. Sy het gesê dit was ‘n geskenk van haar kêrel.” Danie is daarna deur insp. Albertus van Wyk en sers. Gerhardus Louw ondervra. Van Wyk het getuig Danie het vir hom haar kêrel se nommer gegee om die oorsprong van die ring op te volg. “Ek het hom (die kêrel) gevra oor die beskrywing van die ring, waar hy die ring gekoop het en hoeveel dit gekos het. Terwyl ek met hom gepraat het, het ek besef die bedrae van die twee ringe stem nie ooreen nie. Haar kêrel het gesê hy het die ring van R500 by ‘n stalletjie in die middestad gekoop,” het Van Wyk aan die hof gesê. Danie het later aan die polisiebeamptes gesê sy het ‘n ring in die toilet opgetel en vergeet om dit te verklaar. In kruisondervraging het mnr. Ben Mathewson, Danie se prokureur, aan Kordom gesê dit was nalatig van sy kliënt om nie die ring te verklaar nie, maar dat sy vergeet het omdat sy “angstig” was oor die polisie se teenwoordigheid. Hy het gesê sy kliënt het van ‘n lang vlug van London teruggekeer en kon moontlik uitgeput gewees het. Die hof het ook gehoor daar kon verwarring gewees het oor watter ring ter sprake is omdat daar verskeie ringe op die tafel was. Die polisiebeamptes het nie spesifiek na die goue ring verwys nie. Landdros David Tonisi het die saak tot 7 Maart uitgestel. Die staat se laaste getuie, me Rafiek Romaney, sal na verwagting dan getuig.

To Top