Najwa moet uitstaande regskoste nou betaal

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

KAAPSTAD – Mev. Najwa Petersen, die vermeende baasbrein agter die moord op haar man, die musieklegende Taliep Petersen, moet meer as R100000 aan uitstaande regskoste opdok. Regter Anton Veldhuizen het gister in die hooggeregshof hier ‘n bevel toegestaan dat mev. Petersen haar eerste prokureur, mnr. Norman Snitcher, R125022.58 in agterstallige regskoste moet betaal. Snitcher, van die prokureursfirma Snitchers at Law, is die dag van mev. Petersen se inhegtenisneming (18 Junie 2007) as prokureur aangestel. Mev. Petersen het sedertdien van haar tweede regspan (adv. Herbert Raubenheimer SC en mnr. John Riley) verander en maak nou van die dienste van adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC en mnr. Reaz Khan gebruik. Luidens hofstukke het mev. Petersen op 12 Julie aan Snitcher instruksies gegee om teen die weiering van borgtog te appelleer. Dit was nadat streeklanddros Robert Henney haar aansoek op die dag geweier het. Luidens hofstukke het Snitcher sy mandaat behoorlik uitgevoer en voorberei. Hy het die advokaat (adv. Craig Webster) instruksies gegee om ‘n datum vir die appel te kry en om argumentshoofde voor te berei. Uitspraak in die appelsaak is op 5 September gelewer. Borgtok is weer geweier. Die regter in die saak, waarnemende regter John Whitehead, het ook verlof tot appel aan die appelhof geweier. Luidens hofstukke het die advokaat (Webster) hierna instruksies ontvang om ‘n petisie by die appelhof in te dien. Volgens Snitcher is sy mandaat op 7 September 2007 beëindig. “(Snitcher) het daarna die regskoste van die advokaat en prokureur voorgelê met betrekking tot die bogemelde dienste soos partye ooreengekom het.” Op 5 Februarie vanjaar het mev. Petersen skriftelik die uitstaande bedrag van R125022.58 aan Snitcher erken. Volgens ‘n faktuur van Webster, wat in hofstukke ingesluit is, sluit die bedrag onder meer die koste van konsultasies by Valkenberg-hospitaal (waar mev. Petersen destyds aangehou is) van vyf uur en 30 minute, in. Sy kantoorwerk het 59 uur en 30 minute geneem en hy moes 798 bladsye deurlees. Sy is op 10 Maart vanjaar gedagvaar. Intussen gaan mev. Petersen en haar mede-beskuldigdes se moord-verhoor Dinsdag in die Kaapse hooggeregshof voort.

To Top