Najwa probeer glo spore doodvee – sy wis nommer van selfoon uit

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

KAAPSTAD – Mev. Najwa Petersen het vermoedelik haar spore probeer doodvee toe sy die nommer van mnr. Fahiem Hendricks – die man wat sy glo vir die moord op haar man, Taliep, gehuur het – op haar selfoon uitgewis het kort voordat die polise die foon wou ontleed. Supt. Piet Viljoen, bevelvoerder van die eenheid teen georganiseerde misdaad, het gister in die hooggeregshof hier getuig mev. Petersen gemaak het. Hy het ook met behulp van ‘n spesiale rekenaarprogram alle inligting op die foon na ‘n rekenaar oorgedra. “Ek het in ‘n latere stadium – toe ek na die gedetaileerde selfoonrekening gekyk het – gesien daar verskyn ‘n nommer wat die aand van die moord tien keer gebel is, wat nie op die telefoon se uitgaande oproeplys was (wat ek neergeskryf het) nie. “Ek het die afleiding gemaak dat sy die nommer uitgewis het. Ek het gesien dit is as ‘Fahiem Piele’ op haar selfoon gestoor.” Die hof het voorheen getuienis gehoor dat dit Hendricks se benaam is. “Ek het dadelik vir die ondersoekspan gesê hulle moet uitvind wie Fahiem Piele is. Ek het ‘n gevoel gehad hy weet dalk wat gebeur het. “Ek het ook vir hulle gesê hulle moet dieper na mev. Petersen kyk as ‘n verdagte.” Die hof het gehoor hendricks se nommer – wat tientalle kere voor die moord gebel is – het die polisie “op die spoor” van Hendricks geplaas. Viljoen het vroeër getuig hoe hy die oggend van 17 Desember by die morodhuis opgedaag het. Hy het mev. Petersen gevra wat gebeur het. Sy het gesê hulle is beroof en het Viljoen na die kluis geneem. Volgens Viljoen het hy toe reeds onraad vermoed weens die waardevolle items wat nog in die kluis was. Dit sluit juweliersware, ‘n handrekenaar, sonbrille, muntstukke en note in. “Geen huisrower sal daardie items in die huis los nie,” het hy gesê. Adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC, vir mev. Petersen, het dit aan Viljoen gestel dat hy oor mev. petersen bespiegel. Kapt. Kenneth Speed, wat aanvanklik ook lid van die ondersoekspan was, het getuig oor die aantal oproepe wat mev. petersen na hendricks se nommer gemaak het. Volgens die selfoonrekening het sy Hendricks op 13 Desember sewe keer gebel. Op 14 Desember het sy hom 26 keer gebel, die dag daarna het sy vier oproepe na die nommer gemaak, en tien op die dag van die moord. “Het u haar gevra waaroor hulle in kontak was?” wou Von Lieres und Wilkau by Speed weet. Speed het geantwoord hy het mev. Petersen gevra. “Sy het eers gesê sy en hendricks was in ‘n diamant-transaksie betrokke. Sy het egter die storie verander en gesê hulle was in ‘n verhouding.”

TALIEP SE VROU ‘HET OOK GELD VIR PRODUKSIES VOORGESKIET’

KAAPSTAD – Mev. Najwa Petersen het by drie geleenthede geld vir musiekproduksies van haar man, Taliep, en sy vennoot David Kramer voorgeskiet. Kramer, self ‘n musiek- en teaterlegende, het gister so in sy vriend se moorverhoor getuig. Kramer het gisteroggend aan regter Siraj Desai vertel van die vriendskap tussen hom en Taliep. “Ek het hom 30 jaar geken. Ons het 20 jaar saam aan musiekblyspele gewerk,” het Kramer, sonder sy kenmerkende hoed op sy kop, aan die hof vertel. Volgens hom was Taliep Petersen ‘n baie private mens. “Dis hoe ek hom geken het. Jy kon nie net na sy studio gaan sonder om ‘n afspraak te maak nie. As ek hom gebel het, het iemand anders ook altyd die telefoon geantwoord en moes ek vra om met hom te praat.” Hy het aan die hof verduidelik hy, sy vrou (Renaye) en Petersen het geld in die produksies belê. “Daar was ‘n ooreenkoms waar ons geld vooraf sou inbetaal. Sodra ons ‘n wins gemaak het, sou ons dit verdeel,” het hy gesê. In 2003 het Taliep hom gevra om die tjeks aan Dirk Fruit (mev. Petersen se familie-onderneming) en aan mev. Petersen self uit te maak. Die hof het gehoor mev. Petersen het by drie geleenthede geld voorgeskiet. Sy het geld beskikbaar gestel sodat dit soos ‘n “lening” aan die produksies gemaak is.

To Top