President se wag het geen polisie-opleiding

Die presidentswag wat in Januarie weens motordiefstal in hegenis geneem is, het die president en ministers beskerm sonder enige formele polisie-opleiding. Hy het nooit deur ‘n polisiedossier gewerk of ‘n saak ondersoek nie. Mnr. Franco Ndlovu (28) van Wattle Grove-straat, Pinelands, is op 27 Januarie by die polisiebarakke in hegtenis geneem waar hy aan een van ses gesteelde motors gewerk het. Hy het gister getuig dat hy sonder enige spesiale opleiding saam met Pres. Thabo Mbeki en ministers oorsee gereis het. Ndlovu staan saam met mnr. Sibusiso (Innocent) Kunene van Langa voorlopig tereg op ses aanklagte van diefstal. Vyf gesteelde BMW’s en ‘n Mazda is gevind in van die motrhuise by die polisiebarakke. Ndlovu het getuig hy is na st. 8 op Greytown, KwaZulu-Natal, na Zambië waar hy hom by die ANC aangesluit het. “Ek het vroeg in 1988 na Suid-Afrika teruggekeer waar ek my bedrywighede binne die ANC voortgesit het. Ons het mense in die townships opgelei. Nadat ek in 1994 uit die tronk vrygelaat is, het ek by Shell House gaan werk waar ek amptenare en leiers van die ANC beskerm het. “Ek was ‘n sekerheidsbeampte by die ANC-kantoor op Greytown. Na 1994 is ons outomaties by die Polisiediens ingelyf,” het hy getuig. Op die vraag van mnr. Keith Gess, sy regsverteenwoordiger, of hy enige formele opleiding gehad het, het hy gesê hy het geen ondervinding van polisiewerk nie. Op ‘n vraag oor sy posbeskrywing het hy gesê: “Ek het voortgegaan om die ANC-leirskap te beskerm.” Ndlovu het gesê hy het saam met ministers en selfs Mbeki oorsee gereis. Sy misdaadgeskiedenis is nooit nagegaan nie, het hy getuig.

To Top