Geen testament vir Gill Packham ingedien

Die Burger, Maygene de Wee

Rob Packham, die sakeman van Constantia wat daarvan aangekla word dat hy sy vrou vermoor het, werk nie meer by die koeldrankmaatskappy Twizza nie.

Lance Coertzen, bemarkingshoof van Twizza, het Maandag gesê Packham se kontrak het tot ‘n einde gekom.

Hy wou nie sê of Packham afgedank is nie.

Packham is op 1 Maart vanjaar, ‘n week na sy vrou, Gill Packham (55), se dood op 22 Februarie, in hegtenis geneem.

Twizza het hom kort daarna op betaalde verlof geplaas. Hy was toe ‘n hoofbestuurder by een van hul Kaapse aanlegte.

Die Burger verneem geen testament van Gill is nog by die meester van die hooggeregshof in Kaapstad ingedien nie. Die egpaar is buite gemeenskap van goedere getroud.

Gill is volgens inligting in die aktekantoor in Kaapstad die eienaar van drie woonstelle in Claremont. Sy het dit in September 2013, Oktober 2014 en Julie 2016 gekoop teen ‘n gesamentlike prys van net meer as R2miljoen.

Packham is volgens inligting in die aktekantoor die alleeneinaar van hul uis in Rieslingstraat, Constantia. Hy het die huis in Julie 2016 vir R4,6miljoen gekoop.

Packham het gister in die landdroshof in Wynberg op aanklag van moord verskyn. Hy het, soos met sy vorige verskyning, saam met Ben Mathewson, sy prokureur, by die hof opgedaag.

Hy word daarvan beskuldig dat hy Gill, ‘n administratiewe beampte van die Springfield Convent School in Wynberg, vermoor het.

Haar verkoolde lyk is op 22 Februarie kort na 22:00 in die kattebak van haar uitgebrande groen BMW gevind.

Haar een dogter, Nicola Packahm (25), het haar vroeë die aand by die Dieprivier-polisiekantoor as vermis aangemeld.

Nicky Konisi, staatsaanklaer, het gister gevra dat die saak vir verdere ondersoek uitgestel word.

Sy het gesê sy staan in vir adv. Susan Galloway en dat die saak vir verhoor na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas gaan word.

Volgens Konisi is die lykskouingsverslag nog nie ontvang nie.

Die polisieondersoek is afgehandel.

“Die staat benodig egter al die inligting oor die ondersoek voordat ‘n finale klagstaat opgestel kan word,” sê Konisi.

Mathewson het gevra dat die saak uitgestel word tot wanneer Galloway beskikbaar sal wees. Hy wil dan ‘n aansoek bring dat Packham se borgtogvoorwaardes verslap word.

Landdros Goolam Bawa het die saak tot 30 Augustus uitgestel en Packham se borgtog van R50000 verleng.

To Top