Prof help talle dalk om te sterf

Beeld – Jana Breytenbach

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat prof. Sean Davison, wat reeds in Nieu-Seeland skuldig bevind is op ’n soortgelyke aanklag, talle mense in SuidAfrika gehelp het om hul lewe te beëindig.

Davison (57) het gister in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklag van moord op dr. Anrich Burger (43).

Hy het in September 2014 erken hy het Burger, ’n kwadrupleeg van Somerset-Wes, in 2013 gehelp om sy lewe te beëindig.

Die polisie het sy ondersoek intussen uitgebrei nadat nuwe inligting ontvang is, het adv. Megan Blows, staatsaanklaer, gesê.

Blows sê Davison het Burger se dood beplan, wat beteken dit is ’n bylae 6-misdaad en dat die onus op die beskuldigde is om te bewys hoekom hy op borgtog vrygelaat moet word.

Die staat het nie Davison se borgtogaansoek teengestaan nie.

Borgtog van R20 000 is op streng voorwaardes aan hom toegestaan.

Joshua Greeff, Davison se prokureur, het gesê sy kliënt sal skuld ontken. Dit is en was nog altyd sy mening dat hy geen misdaad gepleeg het nie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolging (DOV), het by navraag gesê die rede waarom die staat eers ná vyf jaar besluit het om Davison te vervolg, is

omdat hy geruime tyd oorsee was en eers vandeesweek teruggekeer het.

“Daar was ook toksikologiese toetse wat tyd geneem het om af te handel.”

In sy borgtogaansoek het Davison onder meer gesê hy bied wetenskaplike hulp aan die polisie in verskeie ander ondersoeke.

Hy het ook die DNS-toetse ontwerp wat gebruik word in sake waar meer as een verkragter betrokke is.

Hy is ’n getroude pa van drie minderjarige kinders en dit sal ’n negatiewe uitwerking op die kinders hê as hy nie op borgtog vrygelaat word nie.

Dit sal ook ’n negatiewe uitwerking op sy verhouding met sy vrou hê as sy al hul sake moet bestuur.

Davison het geen vorige veroordelings in Suid-Afrika nie, maar wel ’n veroordeling in ’n soortgelyke saak in Nieu-Seeland, toe hy sy ma (85), wat kanker gehad het, gehelp het om haarself om die lewe te bring.

Hy is daar skuldig bevind en tot vyf maande huisarres gevonnis.

Davison het in 2012 na SuidAfrika teruggekeer. Hy het Dignity SA gestig en voer ’n stryd om genadedood te laat wettig.

Burger het op 34 in ’n motorongeluk in Botswana ’n kwadrupleeg geword en geen geheim gemaak van sy begeerte om sy lewe te beëindig nie.

Wilma du Pisani, sy ma, het gister gesê die polisie het haar Dinsdag gekontak en meegedeel dat Davison in hegtenis geneem is nadat die staat bevestig het hy gaan van moord aangekla word.

“My seun sou nooit wou gehad het dít moet gebeur nie.”

Davison moet op 16 November weer in die hof verskyn.

Prof. Willem Landman, ’n direkteur van Dignity SA, sê ’n onreg word Davison aangedoen.

Daar is mense wat op sterwe lê, maar hul menseregte word nie erken nie.

“Ons is nie in die besigheid van genadedood nie, maar beywer ons vir die ontwikkeling en verandering van die wet.”

To Top