Professor in hof vir ‘moord’ na dokter se dood

Die Burger, deur Jana Breytenbach

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat prof. Sean Davison, wat reeds in Nieu-Seeland skuldig bevind is op soortgelyke aanklagte, talle mense hier gehelp het om hul lewe te beëindig.

Davison (57) het gister in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklag van moord op dr. Anrich Burger (43).

Hy het in September 2014 erken hy het Burger, ‘n kwadrupleeg van Somerset-Wes, in 2013 gehelp om sy eie lewe te neem.

Die polisie het sy ondersoek intussen uitgebrei nadat nuwe inligting ontvang is, het adv. Megan Blows, die staatsaanklaer, gesê. Sy sê Davison het Burger se moord beplan, wat beteken dit is ‘n bylae-ses-misdaad en dat die onus op die beskuldigde is om te bewys hoekom hy op borgtog vrygelaat moet word.

Die staat staan nie Davison se borgtog teen nie. Hy het borgtog van R20 000 ontvang, maar op streng voorwaardes.

Joshua Greeff, Davison se prokureur, het gesê sy kliënt sal skuld ontken. Dit is en was nog altyd sy mening dat hy geen misdaad gepleeg het nie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Direkteur van Openbare Vervolging, het by navraag gesê die rede waarom die staat eers na vyf jaar besluit het om Davison te vervolg, is omdat hy geruime tyd oorsee was en eers vandeesweek teruggekeer het. “Daar was ook toksikologiese toetse wat tyd geneem het om af te handel.”

Davison het geen vorige veroordelings in Suid-Afrika nie, maar hy het ‘n vorige veroordeling in ‘n soortgelyke saak in Nieu-Seeland toe hy sy ma gehelp het om haarself om die lewe te bring.

Burger het op 34 in ‘n motorongeluk in Botswana ‘n kwadrupleeg geword en geen geheim gemaak van sy begeerte om sy lewe te neem nie.

Wilma du Pisani, sy ma, het gister gesê die polisie het haar Dinsdag gekontak en meegedeel Davison is in hegtenis geneem.

“My seun sou nooit wou gehad het dit moet gebeur nie.”

Davison moet op 16 November weer in die hof verskyn.

Prof. Willem Landman, ‘n direkteur van Dignity SA, het gesê dit is ‘n “onreg wat hom (Davison) aangedoen word”.

Daar is mense wat op sterwe lê en hul menseregte word nie erken nie.

“Ons is nie in die besigheid van genadedood nie, maar beywer ons vir die ontwikkeling en verandering van die wet.”

To Top