Twee in arres weens R9,5 m. se perlemoen

Die Burger, Jana Breytenbach

Nadat die polisie twee buitelanders Sondag op aanklag van die besit van smokkelperlemoen in hegtenis geneem het, het verdere ondersoek hulle na ‘n tweede perseel gelei waar smokkelperlemoen op groot skaal uitgedroog word.

Lt.kol. Andre Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het gister bevestig die polisie het nog perlemoen by ‘n huis in Watsoniastraat, Tygerdal, in Goodwood gekry nadat ‘n Chinese man (20) en ‘n Zimbabwiër (30), wat Sondag in hegtenis geneem is, inligting aan die polisie verskaf het.

Die polisie het laat Sondagaand op die tweede h uis toegeslaan.

“Hoewel daar nie nog mense in hegtenis geneem is nie, het die polisie beslag gelê op R9,5 miljoen se perlemoen en toerusting om perlemoen te bewerk,” sê Traut.

Volgens hom is daar aanvanklik geraam dat die perlemoen waarop daar in die eenste klopjag beslag gelê is R3,5 miljoen werd is. Die waarde is nader aan R5,4 miljoen.

“Die polisie is nou op soek na diegene wat die tweede perseel bedryf,” sê Traut.

To Top