DIE BURGER, ARTIKEL DEUR MAYGENE DE WEE

KAAPSTAD – Betogende studente in die Kaap moet van vandag ‘n afstand van minstens 100m tussen hulle en nasionale sleutelpunte, soos die parliament, handhaaf indien hulle daar wil byeenkom.

Regter Mape Dolamo het die beslissing gister in die Wes-Kaapse Hooggeregshof gemaak nadat ‘n dringende aansoek Woensdag voor hom gebring is.

Studente en hul ouers het Woesndagaand na betogings by die parliament ‘n aansoek gebring om te verhoed dat die polisie buitensporige mag teen die betogers gebruik.

Talle studente is Woensdag in hegtenis geneem toe sommige betogers deurgedring het na die parlementêre kompleks en ander vasgetrek is toe die polisie hulle verdryf het.

Die Valke het gister ontken dat hulle ses mans – Kevin French, ‘n pa van twee, Markus Trengrove, Kgotsi Chikane, Chumani Maxwele, Nathan Taylor en Lindsay Maasdorp – van hoogverraad wou aankla.

Die Burger is erger in besit van dokumente – ‘n kennisgewing van regte – wat wys dat French en Maasdorp om 23:20 en 23:12 deur onder andere ‘n sers. De Leeuw van die Valke ingelig is dat hulle van betreding, ‘n aanklag wat met die Wet op die Regulering van Byeenkomste verband hou, en van hoogverraad aangekla gaan word.

Bruce Hendricks, French en Trengrove se prokureur, het ook gister gesê die polisie wou aanvanklik die ses van hoogverraad aankla. Die aanklag is later laat vaar.

Die ses het gistermiddag in die Kaapstad-landdroshof verskyn saam met 23 ander studente wat ook tydens Woensdag se protesoptog na die parliament in hegtenis geneem is.

Dolamo het in sy uitspraak gesê die polisie het onderneem om nie buitensporige mag te gebruik om studente te verdryf wanneer hulle betoog nie.

Die aansoek is Woensdagaand kort na 22:00 tot gister laat oorstaan.

Dolamo het die partye beveel om in gesprek met mekaar te tree in ‘n poging om ‘n ooreenkoms te bereik.

Die studente van die Universiteit van Kaapstad en Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie moet volgens die ooreenkoms toestemming vir enige protesoptrede kry.

Die staat het gevra dat die hof die ses verbied om vir die duur van die verhoor enige protesoptogte by te woon.

Die landdros het die versoek egter van die hand gewys en gesê sy sien geen rede hoekom hulle anders behandel moet word as die 23 ander studente wat sonder enige voorwaardes vrygelaat is nie.

Maasdorp is gister kort na 15:00 weer deur die polisie in hegtenis geneem.

Die saak is tot 23 Februarie vir verdere ondersoek uitgestel.

To Top