‘Baba is medikasie gegee by dagsorg’

Die Burger

Verslaggewer: Jan Gerber

Somerset-Wes – ‘n “Onsettend woedende” en “tenagekome” ma van ‘n babaseuntjie wat in 2007 bedags by me. Monica Helm (62) se Kinderland-dagsorgsentrum gebly het, het gister in die streekhof hier teen haar getuig. Helm word daarvan aangekla dat sy oor-die-toonbank- en skedulevyf-medikasie aan babas en kleuters gegee het sodat hulle kon slaap. Me. Antoinette Steyn het getuig haar seuntjie Matthew, toe skaars tien maande oud, het in 2007 teen die einde van Oktober of dalk vroeg November by Helm se dagsorgsentrum in Somerset-Wes gebly. Sy het opgemerk dat klein Matthew se slaappatrone versteur is en dat hy haar nie wou toelaat om hom te voer nie. Op die staatsaanklaer, me. Karien Theron, se vraag of sy ooit toestemming gegee het dat Helm vir Matthew medikasie mag gee, het Steyn bevestig sy het nie. “‘n Mens gee nie medikasie vir klein kindertjies nie,” het sy gesê. Theron het haar ook gevra of sy ooit vir Helm toestemming gegee het om ‘n mengsel van heuning, gemmer, melk en fyngemaakte Panado aan haar seuntjie te gee. Mnr. Keith Gess, Helm se prokureur, het gesê Helm het nooit die mengsel aan Matthew gegee nie, omdat sy dit nie aan babas gegee het nie, maar wel aan kleuters. Steyn het bevestig dat Helm nie die mengsel aan Matthew gegee het nie. Theron het Steyn gevra hoe sy oor die hele aangeleentheid voel. “Eerstens het ek gevoel ek faal my kind,” was haar antwoord, en het bygevoeg dat sy ook “ontsettende woede” en “tenagekom” gevoel het. “Daar is vir my gelieg.” Na die bewerings teen Helm bekend geword het, het Steyn haar kind na ‘n dokter geneem. Die urinemonsters wat van Matthew geneem is, het negatief getoets. Hy was toe reeds ‘n week lank nie meer in Helm se sorg nie. Steyn het gesê haar kind ondervind steeds probleme om te sluk. “Enige kind wat deur force feeding is, het daardie reaksie,” het sy ‘n mediese opinie hieroor aangehaal. Me. Dinah Mokhutshwane, ‘n forensiese ontleder van die Departement van Gesondheid, het getuig daar is in vier kinders se urinemonsters tekens van medikasie gevind. Streeklanddros Marilyn Cannon het die saak tot vandag uitgestel sodat Gess na ‘n konsultasie met ‘n kenner vir Mokhutshwane verder onder kruisverhoor kan neem.

To Top