Najwa: Staat se laaste kans

KAAP RAPPORT

Verslaggewer: Estelle Ellis

STAAT BETOOG MôRE WAAROM TALIEP PETERSEN SE WEDUWEE NOOIT MOET LOSKOM NIE

KAAPSTAD – Die woord van drie teen twee word van môre af opgeweeg in die laaste hoofstuk van die uitgerekte Taliep Petersen-moordverhoor. Die getuienis van Waheed Hassen, Jefferson Snyders en Fahiem Hendricks gaan in die slotbetoë van die staat aangevoer word as die mees oortuigende bewyse dat Najwa Petersen die baasbrein agter die koelbloedige moord op haar man, die teaterlegende Taliep Petersen, was. Najwa en haar ander medebeskuldigde, Abdoer Raasiet Emjedi, se regspanne gaan egter in hul slotbetoë probeer aanvoer hulle was die onskuldige slagoffers van ‘n duistere komplot oor diamante en swartmarkdollars wat sleg skeefgeloop het. Die verhoor, wat in party kringe as “Bo-Kaap Isidingo” beskryf is, hervat weer môre in hof 1 van die Kaapse hooggeregshof. Shireen Riley, leier van die staat se regspan, sal met haar slotbetoog begin. Regter Siraj Desai en sy twee assessore sal moet oorweeg wie reg is: die drie mans wat haar uitgewys het as die baasbrein of haar getuienis en die van Emjedi wat meestal deur twee frases gekenmerk is: “Ek weet nie” en “Ek kan nie onthou nie.” Die staat sal vra dat Najwa skuldig bevind word op aanklagte van moord met voorbedagte rade – ‘n misdaad waarvoor sy lewenslank tronk toe kan gaan. Najwa se prokureur, mnr. Reaz Khan, het bevestig dat slotbetoë môre sal begin. Gewone mense het reeds Vrydag by die hof kom navraag doen oor wannneer die verhoor voortgaan. Toue mense het in die loop van die saak voor die hof saamgedrom in die hoop om ‘n plek op die openbare galery te kry. Hassen en Snyders het hul onderskeie aandele in die aanval op die Petersen-woning op 16 Desember 2006 erken in dramatiese getuienis. Hassen het erken dat hy die vuurwapen waarmee Taliep geskiet is in die huis ingebring het. Hy het dit egter duidelik aan die hof gemaak dat hy van plan verander het en nie meer vir Taliep wou skiet nie. Hy beweer hy was besig om vir Najwa te wys hoe om self die sneller te trek toe die doodskoot afgegaan het. Snyders het getuig hy het net saam met Hassen gery. Daar is vir hom gesê mense het gevra dat hulle beroof word sodat hul versekeringsmaatskappy hulle kan uitbetaal. Hul getuienis is grotendeels bevestig deur die staat se hoofgetuie, mnr. Faheem Hendricks, vir wie Najwa na bewering gevra het om vir haar iemand op te spoor wat gewillig is om haar man vir geld te vermoor. Hendricks wou, volgens sy eie getuienis, eers niks met die saak te doen hê nie, maar het getuig Najwa het so aangehou dat hy later vir Emjedi gevra het om iets te doen, net om van haar ontslae te raak. Dit was Hendricks wat, nadat maande se ondersoek nie veel opgelewer het nie, aan die polisie gaan vertel het wat gebeur het. Emjedi het ontken dat hy enigiets van die voorval weet. Hy beweer Hendricks het hom valslik betrek. Najwa se advokaat, adv. Johan Engelbrecht SC, sal egter ook moet kom verduidelik: * Hoekom die ontleding van die beskuldigdes se selfone Hendricks se getuienis staaf oor hul bewegings die paar dae voor die moord en die oproepe van Najwa. * Of die hoeveelheid en soort medikasie wat Najwa die aand van die moord gedrink het dalk die rede vir haar ontwykende getuienis en vergeetagtigheid kan wees. * Of Najwa rêrig beter af sou gewees het as Taliep van haar geskei het eerder as dat hy dood is.

To Top