Omkoopbewerings. ‘R250000 om Najwa los te praat’

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

Hassen wys hof hoe Petersen musieklegende glo geskiet het

Kaapstad – Mev. Najwa Petersen het onlangs nog by ‘n medebeskuldigde in die moord op haar man, Taliep Petersen, gepleit om haar “uit die saak te kry”. Sy sal na hom omsien, is belowe. Die beskuldigde, mnr. Waheed Hassen (35), het gister met die onthulling tydens sy getuienis skokgolwe deur hof 1 van die Kaapse hooggeregshof gestuur. Hassen het getuig hy is by drie geleenthede deur Petersen en haar familielede gevra om haar “uit die saak te praat”. Volgens hom het Petersen sedert hul eerste verskynings in die landdroshof “met (haar) taktiek begin”. ‘n Gevangene by die Wynberghof het na hom gekom en gesê hy moet “die vrou laat gaan; sy sal jou uitsort”. By ‘n ander geleentheid is mnr. Sedick Kriel (die man by wie Hassen na bewering die moordwapen geleen het) deur mnre. Whaleed Dirk en Waleed Ajou, (haar broer en ‘n familievertroueling) gevra of daar nie ‘n manier is om haar uit die saak te praat nie. ‘n Bedrag van R250000 is glo aangebied. Op 24 Maart vanjaar het Petersen in die hofselle by die hooggeregshof hom glo weer probeer oorreed. “Sy het gesê sy sal kyk agter my. Ek het vir haar gesê sy is ‘n grootmens. Dis net Allah wat kyk agter ons mense.” Volgens hom het hy dit by die polisie aangemeld. Hy, Petersen en mnre. Abdoer Emjedi en Jefferson Snyders ontken skuld. Die staat voer aan Petersen het mnr. Fahiem Hendricks (nou ‘n staatsgetuie) gevra om die moord vir R100000 te beplan. Volgens Hassen het Hendricks aan hom gesê ‘n “ou vriendin” het probleme met haar man, wat haar verneuk en haar slaan. Op die dag van die moord was die hek en die voordeur op ‘n skrefie oopgelos. Hassen en Snyders het by die woning ingegaan, waat Taliep televisie gekyk het. Petersen het later by hom ingehaak en gesê: “Kom, julle moet klaarmaak; julle moet hom skiet.” In nog opspraakwekkende getuienis was hofgangers vasgenael deur Hassen se demonstrasie van hoe die skietery plaasgevind het. Met ‘n kussing, ‘n leë vuurwapen en die hofbode (wat Petersen vertolk het), het Hassen gewys hoe Petersen die sneller getrek het. Hassen het egter volgehou dit was nooit sy plan om iemand die aand te vermoor nie, slegs om die huis te beroof en die oorledene ‘n “goeie pak slae te gee”. Kruisondervraging sal vandag begin.

To Top