3 Vas wat 2 mans in bakkie doodskiet

Die Burger, deur Malherbe Nienaber

Drie mans is gister in hegtenis geneem kort na ‘n dubbele moord naby die gebou van die polisie se voertuigmisdaadeenheid in Bellville.

Die drie gewapende mans het om 15:50 die twee insittendes van ‘n Toyota-dubbelkajuitbakkie genader het en op hulle geskiet.

Die slagoffers van onderskeidelik 25 en 40 jaar oud, is op die toneel dood, sê die polisie.

Polisiebeamptes wat die skietvoorval op die hoek van Labelleweg en Wattstraat in Stikland gesien het, het die aanvallers in hul Volkswagen Polo agternagesit.

Lt.kol. Andre Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie se jaagtog het geëindig in J Block, Khayelitsha.

Hier is drie mans van onderskeidelik 28, 35 en 46 jaar oud in hegtenis geneem.

“Daar is op vier 9mm-pistole beslag gelê, waarvan drie ongelisensieerd is, en ook op verskeie soorte ammunisie,” sê Traut.

“Die moontlikheid dat die moorde met die taxibedryf verband hou, kan nie uitgesluit word nie.”

To Top