Die Burger, Maygene de Wee
Die tenderbedrogsaak waarin onder meer Malusi Booi tereggestaan het, is voorlopig teruggetrek.
Booi is die oudburgermeesters-komiteelid vir menslike nedersettings in die Kaaptsatd metrol.
Die direkteur van openbare vervolgings in die Wes-Kaap het die saak gister voorlopig teruggetrek omdat die polisie glo nuwe inligting gevind het.
Benewens Booi, het die vermeende Kaapse bendebaas Ralph Stanfield, sy vrou, Nicole Stanfield, en ander beskuldigdes ook in die landdroshof in Kaapstad tereggestaan op die 16 aanklagte wat met beweerde tenderbedrog van miljoene rande verband hou.
Die ander beskuldigdes in die saak, wat in September verlede jaar aanhangig gemaak is, was Suraya Manual, Mohammed Amod, Randall Mullins, sy vrou, Nomvuyo Mnyaka, Lorna Ndoda, Siphokazi September, Kyle Stanfield, Branda Johnson en Pakamisa Nondabula.
Die saak gaan volgens die staat teruggeplaas word op die hofrol wanneer die ondersoek afgehandel is.
Die Stanfield-egpaar, wat reeds op onverwante aanklagte in aanhouding was, is in Oktober verlede jaar by die saak gevoeg.
Nog ‘n beskuldigde, Abdul Kader Davids, is op 19 September verlede jaar in Beacon Valley doodgeskiet skaars 24 uur nadat hy op borgtog vrygelaat is.
Daar is beweer dat die betrokke tenders op bedrieglike wyse toegeken is aan ondernemings wat aan die Stanfields behoort.
Booi is na wat beweer is miljoene rande deur die Stanfields betaal in ruil vir inligting oor die tenders vir laekostebehuising en instandhoudingswerk in die metroraad.
Die hof het ook gehoor dat die saak teen Stanfield, sy vrou en 12 ander wat deur die Wes-Kaapse teenbende-eenheid ondersoek word, afgehandel is en nou na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas gaan word.
Hulle gaan op aanklagte van onder meer moord teregstaan.