Pedofiel wil om ontslag aansoek doen; saak uitgestel

Die Burger, Jana Breytenbach

‘n Man wat nie net in Suid-Africa tereg staan op klagte van onsedelike aanranding nie, maar ook deur die hooggeregshof in Kaapstad as uitlewerbaar bevind is, wil ‘n aansoek om ontslag by die hof indien.

Iain Wares (86) het gister vlugtig op aanklagte van onsedelike aanranding in die landdroshof in Wynberg verskyn.

Ben Mathewson, sy regsverteenwoordiger, het laat blyk hy is gereed om sy kliënt se aansoek om ontslag te betoog, maar die staat het eers ‘n aansoek by die hof ingedien om die verrigtinge in camera te laat geskied.

Die 47-jarige slagoffer beweer Wares het hom onsedelik aangerand toe hy in 1988 ‘n onderwyser aan die Rondebosch Boys’ Preparatory School was.

Wares word ook in Skotland gesoek.

Die hooggeregshof in Kaapstad het in Augustus 2024 bevind dat Wares op drie aanklagte uitlewerbaar is – ‘n aanklag van onsedelike aanranding en twee aanklagte van onwelvoeglike, onsedelike en wellustige praktyke.

‘n Uitgerekte hofproses het begin nadat sake in 2018 in Edinburg teen Wares aanhangig gemaak en hy in 2019 ingevolge ‘n uitleweringsaansoek in Kaapstad in hegtenis geneem is. Die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling het die aansoek in 2020 bekragtig, maar die landdros se bevinding daaroor is op appel geneem.

Luidens die 2024 uitspraak in die hooggeregshof in Kaapstad erken Wares hy is n pedofiel. Hy was ‘n onderwyser in Brittanje en erken sy drang om te molesteer het onbeherbaar geraak. Hy beweer hy het nie sulke dade in Suid-Afrika gepleeg nie.

Die uitleweringsbevel wag nou op die kragtiging deur Mmamoloko Kubayi, minister van justisie en staatkundige ontwikkeling. Die saak is tot middel Junie uitgestel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top