Spoedvalke gryp 2 vriende vir dronkry

Die Burger, verslag deur Jana Breytenbach

‘n Dronk bestuurder in ‘n spoggerige luukse sportmotor het die naweek die voertuig van ‘n verkeersbeampte in Kaapstad getref en toe ‘n vriend na die toneel ontbied…wat ook dronk bestuur het.

‘n Verkeersbeampte was Saterdag omstreeks 06:40 op FW de Klerk boulevard op patrollie toe hy ‘n Porsche Taycan sien wat een ‘n hoë spoed op sy voertuig afpyl, sê die Kaapstad-metro in ‘n verklaring.

Die bestuurder van die Porsche het van baan probeer verwissel, maar die Porsche het sy voertuig skrams getref en die bestuurder het weggejaag.

Na ‘n jaagtog het die beampte daarin geslaag om die voertuig in die omgewing van Century City tot stilstand te bring.

Die 25-jarige bestuurder se asemtoets het bevestig dat hy bykans drie keer oor die wettige perk was.

Hy is in hegtenis geneem weens bestuur onder die invloed, roekeloos en nalatige bestuur, vlug van ‘n ongelukstoneel, versuim om ‘n wettige opdrag uit te voer en skade aan munisipale eiendom. Daar is kragtens die metro se verkeersverordening op die Porsche beslag gelê.

Toe neem die storielyn ‘n onverwagse wending: Die bestuurder van die Porsche het ‘n vriend, ook 25 jaar oud, gebel, wat toe op die toneel opdaag – net om ook weens dronkbestuur in hegtenis geneem te word.

‘n Mens kan kwalik meer vermetel wees, sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, in die verklaring. “Dis net nog ‘n bewys dat sommige bestuurders van supermotors onder ons kategorieë vir die mees problematiese padgebruikers tel.”

Hy sê die aanvanklike voorval op FW de Klerk boulevard is byna identies aan ‘n voorval in Mei vanjaar toe die bestuurder van ‘n geel Porsche ook ‘n botsing op dieselde pad veroorsaak het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top