Vyf mense is gister in die vroeë oggendure weens beweerde konstruksiebedrog, diefstal en geldwassery van R12miljoen vasgetrek.
Vier maatskappye sal in verband hiermee vervolg word.
Lt.kol.Avele Fumba, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die operasie is in die Wes- en Oos-Kaap uitgevoer en nog verdagtes sal na verwagting in hegtenis genem word.
Die Valke het gister laatmiddag bevestig dat Faris Monan (37), Sihaam Tifloen (37), Nicholas Cloete (46), Edward Marais (59) en Anthea Marais (48) in die landdroshof in Kaapstad verskyn het.
Borgtog van R50000 elk is aan Monan, Tifloen en Cloete toegestaan.
Die vyf sal vandag weer in die hof verskyn.
Die inhegtenisnemings volg nadat die eienaars van die konstruksiemaatskappy Pro-Khaya, wat in Gqeberha gesetel is, klagte by die Valke ingedien het.
Die beweerde misdade het van 2015 tot 2018 plaasgevind toe Pro-Khaya sy bedrywighede na Kaapstad wou uitbrei, sê Fumba.
Pro-Khaya het een van die verdagtes, ‘n gekwalifiseerde bourekene-praktisyn as takbestuurder in Kaapstad aangestel.
“Die persoon het na bewering misbruik gemaak van sy posisie deur sy eie private maatskappy te stig wat dieselfde dienste as die moedermaatskappy aangebied het.”
Die Valke se ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagte subkontrakteurs geidentifiseer het wat na bewering met hom saamgesweer het om fiktiewe fakture aan die moedermaatskappy uit te reik. Na bewering het die subkontrakteurs op hul beurt betalings terug aan sy private maatskappy gemaak, sê Fumba. Die geraamde verlies beloop R12miljoen.
