Lede van die Kraaifontein misdaadintelligensiespan het Dinsdagaand tydens ‘n operasie om ‘n ongelisensieerde vuurwapen te vind op nog ‘n onwettige alkoholvervaardigingsaanleg in Kaapstad se noordelike voorsted afgekom.
Dit volg nadat metropolisiebeamptes vroeer vandeesmaand op meer as 2000 liter tuisgemaakte jenewer beslag gelê het by ‘n huis in Zebrastraat, Goedemoed.
Die keer is die onwettige aanleg in die naburige Uitzicht gevind.
Lede van die Kraaifontein-misdaadintelligensiespan en die Durbanville-polisie wat Dinsdagaand op soek na ‘n “persoon van belang” in verband met ‘n ongelisensieerde vuurwapen by die adres toe hulle op die onwettige alkoholvervaardigingsaanleg afkom, sê konst. Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder.
Toe hulle omstreeks 22:30 by die perseel in Antelopestraat toeslaan, het hulle twee Kongolese burgers van onderskeidelik 23 en 24 jaar oud, asook groot hoeveelhede alkohol en ‘n klomp vervaardigingstoerusting, daar aangetref.
Albei mans is op die toneel weens die onwettige vervaardiging van alkohol in hegtenis geneem. Sodra hulle aangekla is, sal hulle in die landdroshof in Bellville verskyn, sê Gwala.
