Die Burger, deur Carl Thomas
Die familie van die rapper Kieran (AKA) Forbes se destydse verloofde sal nog langer moet wag op antwoorde nadat die geregtelike ondersoek na haar dood gister in die landdroshof in Kaapstad uitgestel is.
Die ondersoek na die dood van Anele (Nelli) Tembe (22) sou na verwagting van gister tot môre plaasgevind het en ses getuies sou gerope word.
Die saak is egter tot 7 September uitgestel omdat die voorsittende beampte “‘n mediese noodgeval” het, sê Eric Ntabazalila, woordvoorder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Dit sal nou van 7 tot 9 en op 15 en 16 September aangehoor word.
Ntabazalila het ook genoem dat twee regsverteenwoordigers van die Tembe-familie hulle aan die saak onttrek het. Daar word nog gewag om te hoor oor nuwe regsverteenwoordigers en getuies.
Tembe en AKA het in Februarie 2021 verloof geraak. Sy is in April daardie jaar dood nadat sy glo uit ‘n kamervenster op die 10de verdieping van die Pepper-club-hotel in Loopstraat, Kaapstad, geval het waar sy en die rapper tuisgegaan het.
Tembe het op die teer geval en was in ‘n kritieke toestand toe paramedici opdaag, maar is later dood verklaar.
Die NVG het besluit om AKA nie aan te kla nie, maar het later ‘n geregtelike doodsondersoek aangelê.
Ingevolge die Strafproseswet en die Wet op Geregtelike Doodsondersoeke word so n ondersoek ingestel om te bepaal of iemand verantwoordelik gehou kan word as iemand op ‘n onnatuurlike wyse sterf.
Dis anders as ‘n strafsaak omdat niemand skuldig of onskuldig bevind word nie, maar eerder bepaal word of iemand verantwoordelik gehou kan word. As die hof bevind dit is wel die geval, is dit die NVG se besluit of hy iemand gaan vervolg.
Ntabazalila het gister buite die hof gesê hoeveel hy nie namens die Tembe-familie wil praat nie, kan hulle ‘n privaat vervolging versoek as hulle ontevrede is met die NVG se besluit na die geregtelike doodsondersoek.
“Laat ons nie die kar voor die perde inspan nie. Laaat die proses sy gang gaan.”
AKA en sy vriend Tebeloo (Tibz) Motsoane is in Februarie 2023 buite ‘n restaurant in Durban doodgeskiet.
Die verhoor van die vyf moordbeskuldigdes, Lindokuhle Thabani Mkhwanazi (30), Lindani Zenzele Ndimande (35), Siyanda Eddie Myeza (21), Mziwethemba Harvey Gwabeni (36) en Lindokuhle Lindo Ndimande (29), begin 5 Oktober.
