Die Burger, artikel deur Maygene de Wee
Die pleitverduideliking van Raed Cupido (41) moet in camera gehou word, het landdros Phakama Madlinda gister in die streekhof in Kaapstad gelas.
Madinda se besluit volg op ‘n aansoek deur adv. William King. Cupido se regsverteenwoordiger, dat Cupido se verhoor in camera gehou word en dat die media glad nie oor die hofsaak berig nie.
Cupido vrees glo vir sy lewe nadat sy medebeskuldigde in die saak, Christopher Carelse, in Junie in ‘n koeëlreën in Kensignton doodgeskiet is.
Carelse, wat saam met Cupido aangekla is van die besit van meer as R18miljoen se kokaien, die onwettige besit van vuurwapens, die onwettige besit van ammunisie en die besit van verbode vuurwapens, het op 28 Mei ‘n art. 204-getuie teen Cupido geword nadat die aanklagte teen hom (Carelse) teruggetrek is.
King het die hof ook veroek dat as die media toegelaat word om teenwoordig te wees tydens die verrigtinge, daar ‘n beperking geplaas word op die inligting waarvoor die media mag berig.
Die staatsaanlkaer, adv. PJ Damon, het nie die aansoek teengestaan nie.
Madinda het in haar uitspraak vlugtig verwys na die uitspraak in die Henry van Breda-saak en gesê hoewel die media die reg het op vryheid van spraak en toegang, Cupido se reg op ‘n regverdige verhoor belangriker is.
Sy het ook gesê sou sy besluit om die media in die pleitverduideliking toe te laat, hulle daaroor gaan berig, asook oor die redes hoekom hy skuldig om onskuldig pleit en kan staatsgetuies wanneer hulle dit op televisie hoor of lees, hul getuienis verander en / of aanpas.
Cupido is op 10 Junie verlede jaar by die Stor-Age stoorplek in Roelandstraat in Kaapstad glo met meer as 15kg kokaien, ‘n Uzi-submasjiengeweer, ‘n AK 47 aanvalsgeweer, nog vyf vuurwapens en ammunisie betrap.
