‘n Vrou het herhaaldelik “los my uit, gaan weg van my af” geskreeu, ‘n “harde slag” en ‘n mansstem wat “Oh, my God! Oh, my God!” sê.
Toe Rob Stefanutto, wat sowat 60m van die Pepperclub Hotel in Kaapstad gebly het, by sy balkon uitkyk, het hy ‘n kaal vrou in die pad sien lê.
Die ondersoek na die dood van Anele Tembe (22) het gister in die landdroshof in Kaapstad begin. Tembe en die rapper Kiernan (AKA) Forbes het in Februarie 2021 verloof geraak.
Sy is in April daardie jaar dood nadat sy van die 10de verdieping van die Pepperclub Hotel in Loopstraat geval het waar sy en die rapper tuisgegaan het.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om AKA nie aan te kla nie, maar later ‘n dossier vir ‘n geregtelike doodsondersoek aangelê.
AKA en sy vriend Tebello (Tibz) Motsoane is in Februarie 2023 buite ‘n restaurant in Durban doodgeskiet.
Stefanutto het getuig dat hy in ‘n woonstel besig was om na die oggendnuus te kyk toe hy ‘n woordewisseling tussen ‘n man en vrou hoor. Stefanutto sê dit het al hoe harder en vuriger geraak. Hy het uitgeloop op sy balkon, maar kon niemand sien nie. Kort daarna het Stefanutto die uitroepe gehoor en Tembe in die pad gesien.
Stefanutto is af na die toneel en daar aangekom was Tembe se lyf reeds deur ‘n laken bedek.
Stefanutto het gedink sy is dood. Terwyl hy die eienaar van die hotel wat hy geken het, gebel het, het hy Tembe se linkerhand sien beweeg. Sy het op haar rug gelê. Stefanutto het langs haar gekniel en die laken teruggetrek. Hy kon sien sy lewe, “haar oë was wawyd oop”. Stefanutto het getuig “‘n groot hoeveelheid bloed het by Tembe se mond uitgekom. Haar linkerbeen was gebreek. Hy het haar gevra as sy nie kan praat nie, moet sy haar oë knip en sy het. Stefanutto het haar probeer kalm hou en vir mediese bystand gebel. Hy was op die toneel toe hulle Tembe dood verklaar het.
Stefanutto het later in die media gehoor wie die oorlede is.
Nog ‘n getuie het gister getuig dat hy beeldmaterial verskaf het wat aandui dat Tembe omstreek 07:43 geval het. Volgens die getuie was daar geen vertraging in die opname nie. Die kringtelevisiebeeldmaateriaal het nie die 10de verdieping ingesluit nie.
Nog ‘n getuie, ‘n werknemer van die hotel, het getuig hy is die dag van die voorval ingeroep. Hy is later gevra om kringtelevisiebeeldmateriaal van die hotel bymekaar te maak.
Met betrekking tot die hotel se telefone wys die foonstelsel se logboek gewoonlik die tyd wanneer ‘n oproep ontvang is. Die log het gewys kamer 1004 het laas om 07:46 gevel.
Nog ‘n werknemer van die hotel het getuig sy het die oproep van kamer 1004 daardie oggend ontvang. Sy kon AKA aan sy stem herken omdat hy gereeld gebel het. Hy het homself nooit geidentifiseer nie.
Die persoon wat gebel het was “paniekerig” en het gevra vir sekuriteit, want iemand op ‘n balkon wou afspring.
Volgens die werknemer het AKA nie uitgewei oor wie wou spring of waar die persoon wou spring nie. Terwyl sy nog met hom op die foon was, het sy iemand hoor skreeu en toe ‘n slag.
Sy het die foon neergesit, die gordyn oopgemaak en gesien daar lê iemand op die sypaadjie. Sy het 1004 teruggebel, maar niemand het opgetel nie.
Volgens die vrou het hulle saam met sekuriteitswerkers die laken oor Tembe gesit. Hulle kon aanvanklik nie uitmaak wie sy is nie, want haar gesig was erg beseer. Hulle het eers later die dag gehoor wie dit is.
Die ondersoek duur môre voort.
