Adademikus bedank na ‘laster’ oor straatkinders

Die Burger

Verslaggewer: Ilse Fredericks

KAAPSTAD – ‘n Akademikus van die Universiteit van Kaapstad (UK) teen wie beweringe van die seksuele misbruk van straatkinders gemaak is, het uit sy pos bedank. Die beweringe is vroeer vandeesmaand deur die adtualiteitsprogram Special Assignment gemaak. Die UK het in ‘n verklaring gesê ‘n komitee van ondersoek sou die beweringe ondersoek en toets. “Die personeellid het egter bedank en die UK het die bedanking aanvaar.” Die komitee van ondersoek sal dus nie byeengeroep word nie. Die adademikus het in ‘n verklaring gesê die inhoud van die program oor hom is heeltemal onwaar en uiters lasterlik. Hy het gesê die beweringe is voorheen deur die polisie op die hoogste vlak ondersoek en geen bewyse kon gevind word nie. Ten spyte daarvan het die beweringe uitgebreide mediadekking geniet en is sy reputasie en waardigheid geskend. Hy het gesê hy het “met huiwering en hartseer” besluit om onmiddellik uit sy pos te bedank. Die Burger het vroeër berig die akademikus beplan om die program se vervaardigers en ander partye wat in die betrokke episode beweringe teen hom gemaak het, vir laster te dagvaar. Sy prokureur, mnr. Keith Gess, het gister gesê die proses is nog nie aan die gang gesit nie, “maar ons sal dit waarskynlik doen”.

To Top