Agt aangekeer wat vroue glo aanlyn met liefdeslenter bedrieg

Die Burger / Jana Breytenbach

Agt mense wat vroue glo aanlyn met ‘n liefdeslenter bedrieg en vermoedelik bande met ‘n internasionale sindikaat het, is gister in en om Kaapstad in hegtenis geneem.

Die operasie is in die vroeë oggendure met behulp van die Amerikaanse owerhede deur die Valke, misdaadintelligensie, die nasionale intervensie-eenheid, honde-eenheid, spesiale taakmag, metropolisie en die plaaslike misdaadrekordsentrum uitgevoer.

Kol. Katlego Mogale van die Valke bevestig in ‘n verklaring die verdagtes is tussen 33 en 52 jaar oud en op verskillende plekke vasgetrek.

Hulle word deur verskeie aanklagte van geldwassery en bedrog op internationale vlak en sameswering om aanlyn bedrog te pleeg in die gesig gestaar en is vermoedelik deel van ‘n internasionale misdaadsindikaat, sê Mogale.

Daar word beweer hulle het weduwees en geskeide vroue aanlyn uit hul geld geswendel deur sosiale media en apps te gebruik om hul slagoffers te identifiseer, ‘n vals profiel geskep en ‘n verhouding met die vroue aangeknoop. Verder het hulle glo e-posse onderskep waardeur hulle bankbesonderhede verander het.

Volgens Mogale het hulle dan die slagoffers met hartseerstories om die bos gelei en so geld uit hulle geswendel.

Die FBI skat meer as 100 slagoffers het sedert 2011 meer as R100 miljoen op hierdie manier verloor.

“Die bedrieërs het die slagoffers ook geintimideer en sleggesê, hul lewe verwoes en dan verdwyn,” sê Mogale.

Die agt verdagtes sal vandag in die landdroshof in Kaapstad verskyn.

To Top