Akademikus wen saak teen Special Assignment na program

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

Kaapstad – ‘n Kaapse akademikus wat verlede jaar met beweerde seksuele misbruik van minderjarige straatkinders in ‘n uitsending van die aktualiteits- program Special Assignmentverbind is, het vandeesweek ‘n saak teen die SAUK gewen. Die man het ‘n klag by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid Afrika (UKKSA) ingedien. Die inhoud van die uitspraak kon egter nie bekend gemaak word nie, aangesien dit nog nie openbaar is nie, het ‘n woordvoerder van die UKKSA gesê. Mnr. Keith Gess, die akademikus se prokureur, het aan Die Burger gesê ‘n voorlopige uitspraak is geformuleer, maar dit is nog nie gefinaliseer nie. “Ek het leiding van die tribunaal ontvang dat ek nie verder kommentaar mag lewer totdat die uitspraak gefinaliseer is nie.” Dit is egter nog onduidelik of die akademikus – wie se naam weerhou word – ook ‘n siviele eis vir naamskending gaan bring as gevolg van die program. Hy het gister in ‘n boodskap of Facebook geskryf: “Ek is verheug en vreeslik verlig om julle in kennis te stel dat ek heeltemal suksesvol was in my regsgeding teen die SAUK…”

To Top