Die Burger, verslag deur Jana Breytenbach
Die vermeende baasbrein agter die diamant-Ponzi skema in die Overberg ontken al die aantygings teen haar.
Maria van Heerden (63) het vandeesweek saam met haar vier medebeskuldigdes in die landdroshof in Hermanus op meer as 480 aanklagte van onder meer bedrog, diefstal en geldwassery verskyn.
Van Heerden en haar man, Heinrich (67), Maria se dogter, Cathrine Steynberg (42), Michelle Phillips (56) en Daniel Steyn (51) is midde-in hul borgtogaansoeke wat in September begin het.
Hulle het die afgelope drie weke hul borgtogaansoeke deur middel van beëdigde verklarings ingedien.
Adv. John Nel, staansaanklaer, het verlede Donderdag die verklarings van speursers. Chris Koopman, ondersoekbeampte van die polisie se eenheid teen bedrog, by die hof ingelees. Wat Koopman in sy verklarings onthul, is die gronde waarop hy aanvoer die beskuldigdes is almal vlugrisiko’s en daar is bewyse dat hulle by staatsgetuies sal inmeng of hulle intimideer.
As deel van Koopman se verklarings is daar finansiële bewyse, getuieverklarings en dokumente ingedien wat dui op ‘n beweerde patroon van jare se wanvoorstellings en misleiding. Bankrekords wat miljoene rande in beweerde bedrieglike oordragte toon, aankope van duur items soos ‘n Harley-Davidson motorfiets, fiktiewe kontrakte en kwalifikasies en geloofsbriewe is onder die bewyse.
Die saak is deel van ‘n komplekse finansiële ondersoek na die beweerde Ponzi-skema se struktuur, met verskeie slagoffers wat betaal het vir beleggings in diamante.
Volgens Koopman het van Heerden na bewering aan die slagoffers gesê sy werk vir De Beers en Heinrich het ‘n diamant-handelslisensie.
Sy het soms glo so ver gegaan om haar kop te skeer om die slagoffers daaran te oortuig dat sy kanker het om die slagoffers te oortuig om in haar ondernaming te belê.
Die beskuldigdes het vandeesweek hul repliek op Kooman se bewerings ingedien.
Van Heerden het deur middel van ‘n beëedigde verklaring daarop gewys dat sy op sekere saaknommers begin September in Boksburg in hegtenis geneem is.
Die saaknommers is egter nie op die klagstaat nie en sy voer aan die staat probeer die landdros mislei deur die saaknommers te gebruik, sake waarin sy glo nie aangekla is nie.
“My prokureur het aan my ‘n afskrif van die klagstaat gewys en uitgelig dat daar ‘n verdeling van sake is gegrond op dieselfde meriete. My prokureur het my ingelig dat dit gedoen word om onervare landdroste te mislei om te dink die strafsaak is groter as wat dit eintlik is,” lui haar verklaring.
Benewens die aantyging ontken sy feitlik alles wat Koopman in sy verklaring noem: Die huise in Frankryk en oorsese reise en nog belangriker, dat sy nooit aan Koopman gesê het sy sal skuld beken as sy teen Steyn kan getuig nie.
Verder meld sy dat Koopman haar glo hardhandig en met geen respek nie gehanteer het die dag toe sy in hegtenis geneem is. Sy beweer ook hy het nie haar regte aan haar voorgelees nie.
Die staat het bewyse dat Van Heerden aan verskeie mense gesê het sy is ‘n advokaat en doen werk in die hooggeregshof. Daarom vind die staat dit vreemd dat sy nou aanvoer sy het nie van haar regte geweet nie.
Van die klaers het met haar by die hooggeregshof in Kaapstad vergader waar sy met ‘n toga geloop het en hul vergadering moes kortknip omdat sy glo by ‘n saak moes wees.
Volgens haar het sy nooit enige een gedreig dat sy vingers en ore afkap, vir nasionale intelligensie werk en baie polisiebeampte kan nie.
“Ek sou ‘n idioot wees as ek sulke goed sê”, lui haar verklaring.
Steyn het ontken dat hy slagoffers saam met van Heerden geteiken het. Hy hou vol dat hy self ‘n slagoffer van haar is, geglo het haar diamantonderneming is legitiem en van die beleggers terugbetalings ontvang het.
Oor bewyse van geld wat van van heerden na Steyn oorbetaal is, sê Steyn hy was onder die indruk dat dit die uitbetalings van sy belegging is.
Steyn voer aan hy is net in hegtenis geneem nadat van Heerden hom betrek het en geen klagte is teen hom aanhangig gemaak nie. Hy het die ondersoekbeampte ingelig hy sal kan help met inligting oor van Heerden se beweerde skema. Koopman het hom toe ingelig die staat sal hom as ‘n art.304-getuie gebruik, “maar ek kan nie die opsie oorweeg nie omdat ek nie ‘n misdaad gepleeg het nie”.
Steyn het verder ontken dat hy ‘n vlugrisiko is en by die staatgetuies sal inmeng.
Die saak is tot 3 November uitgestel vir slotbetoë.
