Bankier wou glo sy vrou laat vermoor

DIE BURGER

Verslaggewer – Maygene de Wee (Kaapstad)

‘Huurmoord beplan oor hope gend en egskeiding’

‘n Bankier, hope geld, ‘n hangende egskeiding en ‘n huurmoord. Dit is enkele van die bestanddele in ‘n drama wat hom tans in die Bellville-landdroshof afspeel. Midde-in die drama is mnr. Johan Calitz (64), ‘n voormalige senior navorser by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika. Calitz, van Pretoria-Noord, is op 13 Mei op die Kaapstadse Internasionale Lughawe in hegtenis geneem. Dit het gekom nadat hy glo ‘n sluipmoordenaar wou huur om sy vrou van langer as 36 jaar, me. Sarah Calitz, te vermoor. Volgens hofstukke is Calitz en sy vrou glo al geruime tyd van mekaar vervreem en is hulle aan die skei. Sy woon op Stilbaai. Calitz het op 16 Mei in die Bellville-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van sameswering om moord te pleeg. Borgtog is toe geweier. Die dag daarna is borgtog van R5000 in ‘n dringende aansoek in die Kaapse hooggeregshof toegestaan. Van die borgtogvoorwaardes is dat hy glad nie met sy vrou of kinders (wat reeds uit die huis is) mag kontak maak nie. Hy mag ook nie na Stilbaai reis of sy huis in Pretoria behalwe vir werk, kerk of mediese redes verlaat nie. Volgens ‘n beëdigde verklaring wat by die hooggeregshof ingedien is om sy borgtogaansoek te steun, is die huis waarin hy in Pretoria woon sowat R1 miljoen werd. Die huis waarin sy vrou op Stilbaai woon is sowat R6 miljoen werd. Die huis se inhoud word op sowat R1,5 miljoen geraam. Hy verskyn weer op 13 Julie in die hof.

To Top