Belegging verwoes gesin se goeie lewe

Die Burger – Verslag deur Jana Breytenbach

‘n Slagoffer van die beweerde diamant Ponzi-skema in die Overberg het besluit sy sal haar nie laat onderkry nie nadat sy ‘n lang tyd skuldig en verneder gevoel het oor die geld wat sy verloor het.

Belinda het met Die Burger gepraat op voorwaarde dat ons net haar voornaam gebruik.

Sy het R1,58 miljoen verloor, geld wat veronderstel was om vir haar kinders se toekoms gebruik te word.

Dis presies twee jaar sedert Belinda tot die skokbesef gekom het dat sy die geld verloor het wat sy belê het in wat sy geglo het ‘n legitieme belegging was. “Ek worstel steedsd met die verwoesting van die diefstal,” sê Belinda.

Sy het haar man in 2023 skielik verloor en na sy dood het ‘n lewensversekeringspolis uitbetaal.

Die egpaar was gelukkig. Haar man het ‘n suksesvolle onderneming bestuur en hul lewenspad vorentoe het goed gelyk.

Na sy dood moes Belinda mooi besin oor hoe sy vir haar kinders se toekoms sou voorsien. Die lewenspolis het haar gerusgestel, maar toe het familielede haar vertel van ‘n baie veilige belegging wat haar geldelik meet stabiel sou maak.

Dit was om geld in ‘n diamant-skema te belê en ‘n ruk lank het alles geblyk goed te gaan. Sy het in ‘n stadium ‘n terugbetaling van R80000 gekry en geglo haar belegging is veilig.

Die bom het kort daarna gebars toe sy die vrou by wie sy die belegging gedoen het, in Kaapstad ontmoet het oorkant die hooggeregshof waar sy glo as ‘n advokaat gewerk het.

Belinda wou weet hoekom sy nie die res van die geld en die wins kon betaal nie.

Die vrou is na bewering Maria van Heerden, wat tans saam met haar man en dogter in die landdroshof in Hermanus op verskeie aanklagte van bedrog en geldwassery teregstaan.

Na die ontmoeting het Belinda besef sy gaan nooit haar geld sien nie.

“In Desember is ek gedwing om die hartverskeurende besluit te neem om die huis en dorpie te verlaat waat ek 22 jaar lank gewoon het. Ek moes my dogter uit ‘n skool verwyder wat sy liefgehad het en haar in aanlyn skoolonderrig plaas. Nou leef sy soos Raponsie – geisoleerd binne vier mure. Sy het geen sosiale interaksie as ‘n tiener nie, geen skoolvriende nie, geen geleentheid om kontak te maak nie. Die skade aan haar selfvertroue en gevoel van behoort is diep kommerwekkend vir my as ‘n ma” sê Belinda.

Die rimpeleffek het elke hoek van hul lewe bereik. Hulle het heenkome by ‘n vriendin gevind en probeer nou ‘n nuwe lewenspad uitpluis.

“Die diefstal het ons nie net van gestroop nie – dit het jare se stabiliteit, gemeenskap, vriendskappe en die eenvoudige vreugdes van die alledaagse lewe gesteel. Die impak is steeds met ons en my grootste bekommernis is hoe dit my dogter se tienerjare verander het, wat haar meer geisoleerd en introvert gelaat het in ‘n tyd toe sy moes floeer,” sê Belinda.

Intussen het Van Heerden (63) en haar man, Heinrich (67), hul dogter, Cathrine (Claudia) Steynberg (43), Michelle Phillips (56), wat na bewering saam met Maria werk, en Daniel Steyn (51) wat as prokureur in Hermanus en in die Kaap gewerk het, gister in die landdroshof verskyn waar hul aansoeke om borgtog begin het.

Phillips staan tereg in twee afsonderlike sake – een in die Palm Ridge landdroshof in Johannesburg weens bedrog van R4 miljoen en een in die handelshof in Bellville weens bedrog van R7 miljoen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top