Dagmoeder vry, want saak ‘was vol foute’

ARTIKEL DEUR JANA BREYTENBACH HTTP://WWW.DIEBURGER.COM/

KAAPSTAD – ‘n Dagmoeder van Somerset-Wes se “nagmerrie” van die afgelope sewe jaar is verby nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof haar op alle aanklagte vrygespreek het. Monica Helm (67) van Somerset-Wes is daarvan aangekla dat sy susmiddels aan kinders gegee het was sy in haar dagsorgsentrum, Kinderland, versorg het. Die aantygings het aan die lig gekom toe haar assistent, Angelina Carolus, party ouers ingelig het dat sy sekere middels vir die kinders injaag om hulle te laat slaap. Landdros Marilyn Cannon van die Somerset-Wes-streekhof het Helm in 2011 skuldig bevind op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en vyf jaar effektiewe gevangenisstraf opgelê. Keith Gess van Mathewson Gess Inc Prokureurs, wat Helm verteenwoordig het, het ‘n aansoek ingedien om teen die skuldigbevinding en vonnis te appelleer, maar Cannon het dit van die hand gewys. Gess het dit op petisie na die hooggeregshof geneem, waar dit toegestaan is. Regter Patric Gamble en waarnemende regter Boet Smit het die appelsaak aangehoor en uitspraak is Woensdag gelewer. In hul uitspraak het die regters die staat se hoofgetuie, Carolus, se getuienis beskryf as “deurtrek met onwaarskynlikhede”. Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom dat Carolus kwaad was vir Helm omdat Helm haar aangespreek het oor onder meer beweerde diefstal, dat sy medisyne op die Helm se apteekrekening gekoop het en dat sy self van die kinders aangerand het. Gamble het gesê Carolus het van die beweerde medikasie wat Helm glo aan die kinders gegee het aan die polisie verskaf. “Dit is opvallend dat daar min, of geen, verband tussen die medikasie en die monsters van die kinders se bloed en urine is nie.” Gamble het gesê die landdros het gefouteer om so sterk op Carolus se getuienis staat te maak en haar as ‘n 204 getuie (‘n tipe staatsgetuie) te aanvaar. Verder is die polisie se getuienis beskryf as “geensins duidelik en onomwonde” nie. “‘n Mens sou moes vra of die medikasie wat die dag aan die kinders gegee is werklik aan hulle gegee is en of Carolus dit opgemaak het, met die wete dat die polisie die huis sou deursoek, en of dit ‘n onsuiwer poging was om Helm te betrek by ‘n klomp ernstige oortredings,” het Gamble gesê. Hy het bygevoeg die saak was ‘n duidelike aanval op Helm en dat die staat se saak van die begin “fundamentele foute” gehad het. Die regters het die skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel.

To Top