Drie in hof in verband met mensehandel

Die Burger, Verslaggewer: Maygene de Wee

Drie mense wat Donderdag deur die Valke in die Wes-Kaap in verband met mensehandel in hegtenis geneem is, het Vrydag in die landdroshof in Kaapstad verskyn.

Die saak teen Pretty Hlengiwe Mkhize (33), Uche Davidson (41) en Aishatu Musae (34), is tot 15 Desember vir verdere ondersoek uitgestel.

Kapt. Lloyd Ramovha, Wes-Kaapse woordvoerder vir die Valke, het gister gesê hul lede het gereageer op inligting oor moontlike mensehandel. Hulle het die inligting van ‘n nieregeregeringsorganisasie in Kaapstad gekry.

Volgens die inligting is ‘n 26-jarige vrou van Johannesburg deur ‘n vrou bekend aan haar na Kaapstad gelok met beloftes van werk.

Met haar aankoms in Kaapstad is die slagoffer glo deur twee mans opgelaai. Sy is daarna teen haar sin as ‘n seksslaaf aangehou.

Die vrou het volgens Ramovha na ‘n tyd daarin geslaag om te ontsnap en die voorval is by die Valke aangemeld.

Die slagoffer se identiteitsdokument, sowel as haar selfoon, is deur die beskuldigdes van haar weggeneem.

Ramovha sê die drie sal tot hul volgende verskyning op Vrydag 15 Desember in aanhouding bly.

To Top