‘Dwelm’-saak teen burgemeester teruggetrek

Die Burger, verslag deur Malherbe Nienaber

‘n Saak wat gespruit het uit ‘n klopjag verlede jaar waarin die polisie op “dwelms” en ammunisie beslag gelê het op die woonperseel van die burgemeester van Bergrivier is in die hof teruggetrek.

Dit is gister deur die polisie in die Wes-Kaap bevestig na die klopjag by die huis van Ray van Rooy, burgemeester, op 11 Desember waarin ‘n “aansienlike hoeveelheid” dwelms en ammunisie gevind is. Sers. Wesley Twigg, polisie woordvoerder, sê niemand is in verband met die voorval aangekla nie, en verdere navrae is na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys.

Van Rooy was die volgende dag terug op sy pos nadat hy deur die polisie vir ondervraging aangehou is.

Koos Steyn, DA-streekvoorsitter, het verlede Donderdag in ‘n verklaring gesê van Rooy se naam is na 10 maande van beproewing in ere herstel.

Hy sê forensiese toetse na die klopjag het bevestig dat geen dwelms gevind is nie en een patroon wat “oud, geroes en onbruikbaar” is.

“Alles oor die kwessie spreek van ‘n desperate en kwaadwillige poging om ‘n goeie, hardwerkende burgemeester te ondermyn, hom uit sy amp te verwyder en sy aansien as ‘n vooraanstaande man in die gemeenskap swart te smeer.”

Steyn sê die DA ondersteun ook die polisie se ondersoek om diegene wat agter die smeerveldtog sit aan die kaak te stel. “Ons hooop dat Van Roooy en sy familie, wat erg deur die voorval getraumatiseer is, geregtigheid sal vind.”

Volgens Steyn het pogings om van Rooy te intimideer nie opgehou nie, en het hy in die vorige twee weke doodsdreigemente ontvang, terwyl daar ook drie pogings was om by sy huis in te breek.

“Die DA veroordeel die misdadigheid ten sterkste en is bly dat die polisie ‘n ondersoek daaroor van stapel gestuur het.”

Steyn sê dit is bemoedigend dat dienslewering in Bergrivier bestendig gebly en onversteurd voortgegaan het, ondanks die “persoonlike aanval” op van Rooy.

Van Rooy het op 17 Desember na die klopjag gesê hy is nie aangekla in verband met die voorval nie en is uit aanhouding vrygelaat.

Hy het in ‘n verklaring benadruk dat die gebeurtenis hom en sy gesin verpletter het, en dit beskryf as ‘n desperate poging om sy naam skade te berokken.

“Ek is diep seergemaak oor wat gebeur het, aangesien dit nie net vir my nie, maar ook vir my gesin groot lyding veroorsaak het.”

Hy sê hy was nog nooit by die verkoop of verspreiding van dwelms betrokke nie, en het dit ook nog nooit gebruik nie. Die wit stof en patroon wat die polisie gevind het, was buite sy huis glo tussen houtpalette versteek.

“Die beproewing was uiters pynlik. My vrou en kinders verkeer in trauma en is skaam oor die situasie. Dit het ook my swanger dogter geweldig spanning besorg.”

Van Rooy sê hy het nog altyd probeer “om ‘n bewaarder van positiewe invloed en verandering te wees” en sal nie ophou daarmee nie. “Ek glo dat die meesterbrein agter hierdie smeerveldtog blootgelê sal word. As ‘n Godvresende man sal die waarheid na vore kom en my uiteindelik vrymaak.”

Die Bergrivier-munisipaliteit sluit Piketberg, Velddrif, Porterville, Redelinghuis, Eendekuil en Aurora in.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top