Fopnuus: Man in hof oor video

Die Burger – Maygene de Wee en Jaco Marais

Stephen Birch (54) van Parow het gisteroggend in die landdroshof in Kaapstad in verband met die verspreiding van fopnuus oor die koronavirus verskyn.

Die saak teen Birch is in hof 15 to 14 Julie uitgestel. Hy is op waarskuwing vrygelaat.

Hy het verskyn op aanklagte wat met regulasie 11(5)(c) van die wet op Rampbestuur verband hou.

Dit behals die publikasie van enige verklaring deur middel van enige medium, waaronder sosiale media, met die bedoeling om ander te mislei oor die regering se pogings om Covid-19 te bestry.

As hy skuldig bevind word, kan hy tot ses maande tronkstraf opgelê word.

Birch het gisteroggend bevestig dat die polisie hom Maandagaand in die Parowpolisiekantoor in hegtenis geneem het.

Hy het daarheen gegaan nadat die polisie hom opgespoor en gewaarsku het om hom by sy naaste polisiekantoor aan te meld.

Hy het gister gesê hy is aangeraai om geen kommentaar te lewer nie. “Ek mag niks vir julle oor die saak sê nie. Niks nie.”

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gister gesê Birch is die eerste Wes-Kapenaar wat in verband met die verspreiding van fopnuus oor die koronavirus in hegtenis geneem is.

Buiten Birch is drie mense ook in KwaZulu-Natal en vyf in Gauteng in verband met soortgelyke oortredings in hegtenis geneem.

Die Gautengers sluit vier van Temba, noord van Pretoria, en ‘n 23-jarige man van die Pretoriase voorstad Lynnwood in.

Kort nadat Birch se video versprei is, het die polisie klagtes daarvoor van die publiek ontvang.

Hy raai Suid-Afrikaners glo aan om hulle nie vir die koronavirus te laat toets nie.

Die video het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.

Hy het onder meer beweer dat ‘n Britse koerant onlangs berig het dat duisende toetstoestelle reeds met die koronavirus besmet is.

Dit bly dat Birch gesê het dat Suid-Afrikaners daarop moet aandring dat geen toetstelle uit China of enige ander Europese lande gebruik word nie. “Ons moet net Suid-Afrikaans vervaardigde toestelle gebruik en waar toetstoestelle van ander lande gebruik word, moet die Sui-Afrikaanse regering dit eers toets om seker te maak dat dit nie met die virus besmet is nie,” sê hy in die video.

Hy het verder gesê dat Suid-Afrika en Afrika tans die laagste voorvalle van die koronavirussiekte het en dat hy vrees dat sou Suid-Afrikaners met die “besmette” toestelle getoets word, kan die syfers styg.

* Birch is dieselfde persoon wat in Julie 2012 aangekondig het dat hy die oorskot gevind het van Madeleine McCann, wat in Mei 2007 naby die vakansieoord in Praia da Luz aan die Portugese suidkus verdwyn het.

Birch het toe gesê dat hy sy “vonds” aan Scotland Yard en die Portugese polisie oorhandig het.

Niks het egter daarvan gekom nie.

To Top