Genadedood: Tutu steun Sean Davison

Die Burger, deur Lynn Williams en Marelize Barnard

Prof. Sean Davison, wat Dinsdag in hegtenis geneem is op aanklag van moord weens die genadedood op dr. Anrich Burger, het gister die steun van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu gekry.

Tutu het in ‘n verklaring gesê net soos wat hy aan medelye en regverdigheid in die lewe glo, glo hy ongeneeslik siek mense moet ook met medelye en regverdigheid behandel word waar dit by hul dood kom. “Tesame met wonderlike palliatiewe sorg moet een van die keuses vir ongeneeslik siek mense wees dat hulle ‘n waardige dood kan hê waarmee hulle bygestaan word,” sê Tutu.

Hy glo wetmakers moet hieroor besin en dit toepaslik toelaat en reguleer.

Vir Burger se ma, Wilma du Pisani, krap dit weer ou wonde oop.

“Anrich het geweldige pyn gehad. Hy wou met waardigheid sterf, en hy het. Ek moes daarmee vrede maak. Hy (Davison) het my seun gehelp; hy is nie ‘n misdadiger nie. Hy het bloot my seun se wense uitgevoer. Ek glo nie hy het moord gepleeg nie.”

Burger (43) was ‘n kwadrupleeg sedert hy op 34-jarige ouderdom in ‘n motorongeluk in Botswana betrokke was. Hy het daarna sy begeerte om sy lewe te neem, duidelik gemaak.

Burger het in 2013 met Davison se hulp in ‘n kamer in ‘n luukse hotel in die V&A Waterfront in Kaapstad ‘n dodelike dosis fenobarbital (‘n kalmeermiddel) gedrink.

Burger het volgens sy vriende erg gely en het in ‘n stadium die Dignitas-kliniek in Switserland gekontak om hom te help, maar dit was vir hom te duur.

Davison het Dinsdagnag in die selle in die Seepunt-polisiekantoor deurgebring voordat hy Woensdag op borgtog van R20 000 vrygelaat is.

Intussen berig Jana Breytenbach Davison het gisteroggend, nadat Die Burger ‘n onderhoud met hom veroek het, gesê sy regspan het hom opdrag gegee om nie met die media te praat nie.

To Top