‘Hof moet na bewyse kyk’ oor Sweed se dood

Die Burger – Jana Breytenbach

Die dood van ‘n jong Sweedse vrywilliger is tragies en dis menslik om te voel iemand moet daarvoor verantwoordelik gehou word, maar die hof moet alle emosie uitskakel en konsentreer op die bewyse voor hom.

So het Keith Gess, Darryn Futter se regsverteenwoordiger, gister in sy slotbetoog in die streekhof in Kaapstad aangevoer.

Futter staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, dronkbestuur, roekelose bestuur en twee aanklagte van aanranding. Hy ontken skuld op al die aanklagte.

Die aanklagte hou verband met die dood van Aksel Otterbeck (19), wat op 14 Desember 2016 dood is nadat hy omstreeks 20:00 in Arumweg, Tafelsig, deur ‘n voertuig getref is.

Daar was minstens nege mense wat in twee groepe in die pad gestap het – een aan die linkerkant en een aan die regterkant, en die een groep ‘n ent voor die ander. Otterbeck was in die tweede groep.

Futter het van Doodles, ‘n restaurant en kroeg in Broubergstrang, huis toe gery. Toe hy in Arumweg indraai, het hy die mense in die pad opgemerk.

Hy het sy ligte geflits en getoet om hulle te waarskku. Die eerste groep het na die sypaadjie geskuif. Hy het sy voertuig na die middel van die pad gestuur en verby die groep gery. Hy het toe weer sy ligte geflits en getoet om die tweede groep te waarsku.

Futter het getuig hy het nie vinniger as 40km/h gery nie.

Toe hy terug na die linkerbaan ry, het drie mense in die tweede groep geskrik. Otterbeck het volgens Futter twee ander mense voor die voertuig weggestoot en dit is toe dat die voertuig hom links voor getref het.

Volgens Gess moet die hof beslis of Futter se optrede Otterbeck se dood veroorsaak het – wat moeilik is omdat die staat belangrike getuies, soos kenners wat ‘n rekonstruksie van die ongeluk kon doen en belangrike ooggetuies, nie gerope het om te getuig nie.

Die staat het net sekere getuienis aangebied ten einde ‘n spesifieke narratief te ondersteun.

In kruisondervraging van die staat se getuienis het dit geblyk hulle is nie 100% seker oor wat die aand gebeur het nie, het Gess gesê.

“Die enigste persoon wat daardie inligting aan die hof kan gee, is die beskuldigde.”

Volgense hom was daar ‘n mate van invloed op die staatsgetuies oor wat hulle moes getuig. Daar is besluit Futter was dronk en het die ongeluk veroorsaak. Gess het wel pertinenete getuienis uitgelig wat die staat nie aangebied het om sy saak te bewys nie.

Getuies van ‘n gespesialiseerde polisieondersoekspan wat fokus op ongelukstonele, is nie gerope nie. Ook is geen ongeluksverlae ingedien nie.

‘n Vrou wat Futter die aand na die ongeluk gehelp het en wat deurslaggewende getuienis sou kon lewer oor of Futter dronk was, is nie geroep om te getuig nie. Daarbenewens het nie een van die staat se getuies getuig Futter was dronk nie.

Geen mediese bewyse is by die hof ingedien nie.

Uitspraak word in Mei gelewer.

To Top