Katlego Maboe eis miljoene se skadevergoeding

Maroela Media

Die voormalige televisieaanbieder en akteur Katlego Maboe eis altesaam R4 miljoen in skadevergoeding van vier verskillende partye, onder meer sy eksvrou en  haar broer.

‘n Storm het in Oktober verlede jaar om Maboe (34) se kop losgebars nadat bewerings van ontrou en huishoudelike geweld teen hom op sosiale media aan die lig gekom het.

Die bewerings het daartoe gelei dat Maboe onder meer sy aanbiederspos op The Expresso Morning Show kwyt is en die OUTsurance-advertensies waarin hy verskyn het van die lug gehaal is.

Hy het ook in April vanjaar sy benoeming vir beste TV-aanbieder vir die Suid-Afriaanse rolprent- en televisie-toekennings (Saftas) verloor.

Maboe voer aan dat hy “sielkundige skade” gely het en eis nou R1 miljoen van elk van vier verskillende partye, insluitend sy eksvrou, Monique Muller, en haar broer, Seth, asook Sabrina Walters, stigter van die Women for Change-organisasie, en dr. Janet van Eeden, voorsitter van die beoordelaars van die Saftas.

Luidens berigte eis Maboe dat die skadevergoeding binne drie weke uitbetaal word. Sou daar nie aan die eise voldoen word nie, sal hy amptelike eise instel vir verlies aan inkomste, sielkundige skade en skade aan sy goeie naam.

Maboe het destyds op sosiale media sy kant van die saak gestel en hoewel hy erken het dat hy ontrou was aan Muller, saam met wie hy ‘n tweejarige seuntjie het, het hy ontken dat hy haar mishandel het.

To Top