Kleuter kry nagmerries en skree, hoor hof in dagmoedersaak

DIE BURGER

Verslaggewer: Jackie Pienaar-Brink

Somerset-Wes

‘n Ma het in die Streekhof hier getuig hoe haar dogter ‘n obsessie met medikasie ontwikkel het nadat sy in die Kinderland-dagsorgsentrum opgeneem is. Die betrokke dagmoeder, mev. Monica Helm (62) van Heldervue, Somerset-Wes, word daarvan verdink dat sy oor-die-toonbank- en skedulevyf-medisyne aan babas en kleuters gegee het sodat hulle kon slaap. Sy ontken sklud op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, die alternatief van mishandeling en ‘n aanklag dat Kinderland nie na behore geregistreer was nie. Mev. Martie le Roux het gister getuig haar kleuter het in die tyd dat sy in Kinderland was obsessief geraak oor medisyne. Sy het twee keer in kaste geklim om medikasie te neem. Twee keer is sy hospitaal toe gehas vir oordosering. Sy het ook in mense se handsakke gekrap om medisyne in die hande te kry. “Dit (die obsessie) is vandag weg.” Dieselfde kind het saans baie sleg geslaap. Het sy wel aan die slaap geraak, was sy binne vyftien minute weer wakker. “Sy het begin nagmerries kry en begin skree in die nag. Soms het sy gesê sy sien apies buite die kamer rondhardloop,” het Le Roux getuig. Haar kind was gedurig hardlywig, wou nie eet nie en he in ‘n stadium bosse hare verloor. Doeke was ook “altyd ‘n storie”, het Le Roux vervolg. Die doeke wat hulle verskaf het, was net nooit genoeg nie. Helm het gesê hulle kan goedkoop doeke deur haar kry. Hulle het ingestem, waarna haar man opgemerk het hy is seker hulle koop hul eie doeke terug. Sodra hulle doeke van ‘n nuwe handelsmerk daar aagebring het, was dit net ‘n tydjie voordat Helm met dieselfde handelsmerk gevolg het. Le Roux het hul doeke met ‘n swart pen gemerk en haar man was inderdaad reg, het sy gesê. Nadat Le Roux bande met Kinderland verbreek het, het haar dogter ‘n persoonlikheidsverandering ondergaan. Die hardlywigheid en eetversteuring was weg en met arbeidsterapie het sy ontwikkel van ‘n kind wat nie op ‘n klimraam kon klim nie na een wat bollemakiesie slaan. Nog ‘n ouer, mnr. Hendrik Claassens, het getuig sy twee seuns was in ‘n stadium as tydelike reëling net vir twee weke by Helm. Die een seun van vier en ‘n half het na sy eerste dag gesê “hy wil nie weer medisyne hê nie”. Streeklanddros Marilyn Cannon het die saak tot 14 Oktober uitgestel.

To Top