Lasbrief vir speler van Chippa United

ARTIKEL DEUR DIE BURGER, VERSLAGGEEFSTER JANA BREYTENBACH

KAAPSTAD – ‘n Lasbrief vir die summiere inhegtenisneming van ‘n speler van die Kaapse Premierliga-sokkerklub Chippa United is gister uitgereik. Dit kom nadat hy vir ‘n tweede keer versuim het om by die hof op te daag. Die speler staan in Goodwood-landdroshof tereg op aanklag van verkragting van ‘n 19-jarige vrou. Sy naam mag nie bekend gemaak word nie, omdat hy nog nie op die aanklag gepleig het nie. Landdros Sean Lea het op 9 Mei ‘n lasbrief vir die ingehegtenisneming van die beskuldigde uitgereik omdat hy nie by die hof was nie, maar het dit tot gister laat oorstaan. Hy het glo toe aan die Nedbank-toernooi in Johannesburg deelgeneem. Bruce Hendricks, die beskuldigde se prokureur, het hom aan die saak onttrek. Volgens Hendricks het hy verskeie pogings aangewend om met sy kliënt te konsulteer, maar kon hy die beskuldigde nie opspoor nie. Hy het selfs Chippa se bestuur probeer kontak, maar dit was ook onsuksesvol. Die beskuldigde is op 6 Maart in hegtenis geneem en dieselfde dag in die Goodwood-landdroshof op borgtog van R1000 vrygelaat. Die staat voer aan die beskuldigde het die klaer op 9 Februarie in sy huis verkrag.

To Top