Man in hof na slenters op web

Die Burger, Cara-Lee Dorfling

‘n Man wat na bewering deel uitmaak van ‘n aanlyn-bedrogsindikaat in die Wes-Kaap het gister in die hof verskyn.

Tochukwu Christopher Udeh (27) is Woensdag deur lede van die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem op ‘n aanklag van bedrog.

Udeh het glo slagoffers gewerf deur ‘n webtuiste vir aanlyn ontmoetings deur vals aanlyn profiele te gebruik. Nadat ‘n slagoffer op ‘n webtuiste gelok is, het die persoon met ‘n vals profiel glo hul verhouding voortgebou deur nog gesprekke per telefoon, e-pos en WhatsApp vol te hou.

Die slagoffers word dan glo om die bos gelei om geld of geskenke vir die bedrieërs te stuur, lui ‘n verklaring van kapt. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder. Hy sê daar word beweer dat Udeh deel is van die sindikaat wat in die Kaapstad-omgewing bedrywig is.

Udeh het gister in die landdroshof in Bellville verskyn en hy bly in aanhouding. Hy sal op 27 Augustus aansoek om borgtog doen.

To Top