MAN MOET TWEE JAAR SIT NA SEUNTJIE SE SKIETDOOD

ARTIKEL DEUR JANA BREYTENBACH – DIE BURGER

KAAPSTAD – Die jong man wat 15 maande gelede die dood van ‘n peuter veroorsaak het, is vir twee jaar tronk toe gestuur. Rameez Thomas (19) van Manenberg is gister in die Khayelitsha-streekhof gevonnis nadat hy Vrydag aan strafbare manslag, die besit van ‘n onwettige vuurwapen en die rig van ‘n vuurwapen skuldig bevind is. Thomas is aanvanklik van moord aangekla, maar landdros William October het die aanklag na strafbaremanslag verander. Ben Mathewson, Thomas se prokureur, het gesê October het in sy uitspraak gesê daar was genoeg bewyse voor die hof dat die voorval ‘n ongeluk was en dat Thomas die peuter nie opsetlik doodgeskiet het nie. Thomas het op 7 Maart 2012 die dood van Faeez Wesso (3) veroorsaak deur hom per abuis in die kop te skiet. Die seuntjie is later in sy ouma se huis dood. October het gesê geen vonnis sal die lewe van die peuter terugbring nie, maar die hof moet op ‘n gebalanseerde vonnis besluit. “Die vonnis kan nie te lig of te swaar wees nie. Die beskuldigde is nog jonk en kan gerehabiliteer word.” October het aangevoer die feit dat die beskuldigde nie onder eed getuig het nie, maar eerder ‘n beëdigde verklaring ingedien het, maar dit moeilik om te bepaal of hy werklik berou oor die daad het. “In sy verklaring sê die beskuldigde hy is jammer, maar hy het dit nooit self gesê nie. Hy is soos ‘n geslote boek.” Hoewel Thomas ‘n eerste oortreder is, het October gesê dit beteken nie hy kan nie tronk toe gestuur word nie. “In die saak sal dit ‘n onreg vir die oorledene wees as tronkstraf nie opgelê word nie. Die vonnis moet nie hoop van die beskuldigde ontneem nie, maar moet ook nie breek nie.” Thomas is vier jaar gevangenisstraf op aanklag van strafbare manslag opgelê, waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is. Op die aanklag van die besit van ‘n onwettige vuurwapen is hy twee jaar gevangenisstraf opgelê en vir die rig van ‘n vuurwapen ses maande. Die vonnis sal samelopend uitgedien word. Thomas is ook ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

To Top