Najwa sê gou sy is nie betrokke

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

Reuse-polis: Vir Zaynab

Moordkussing ‘weg’

KAAPSTAD – Nog voordat mev. Najwa Petersen deur die polisie as ‘n verdagte beskou is, het sy herhaaldelik onder eed verklaar dat sy niks met haar man se moord te doen gehad het nie. So het die Kaapste hooggeregshof gister gehoor toe die ondersoekbeampte, kapt. Joe Dryden, gister getuig het. In ‘n verklaring wat mev. Petersen twee dae na haar man se moord aan Dryden gemaak het, sê sy daar was geen “kwade gevoeldens” tussen haar en haar man nie, selfs nadat sy hom in April 2006 met ‘n mes gesteek het. Hof 1 was gister, soos gewoonlik volgepak. Mnr. Ngconde Balfour, minister van korrektiewe dienste, en sy adjunk, me. Loretta Jacobus, het in ‘n mediabank in die hof gesit. Regter Siraj Desai het vir Balfour geknipoog toe hy en Jacobus die hof weer verlaat het. Luidens mev. Petersen se verklaring was sy in ‘n “diep slaap” toe sy “wil wakker gemaak is” deur ‘n onbekende man. Sy het verduidelik hoe hulle beroof is terwyl ‘n vuurwapen teen haar kop gehou is. Die aanvallers het haar in haar kamer toegesluit nadat sy vir hulle gewys het waar die kluis is. “Kort daarna het ek een skoot hoor afgaan en daar was ‘n doodse stilte.” Mev. Petersen het luidens die verklaring hierna verskeie familielede gebel. Adv. Shareen Riley, vir die staat, het dit aan Dryden gestel dat mev. Petersen dit twee keer in haar verklaring stel dat sy “niks het om weg te steek nie”. “Het u dit vir haar gevra?” wou Riley by Dryden weet. Dryden het geantwoord dit is wat sy vir hom gesê het en dat hy haar net uitgevra het as hy meer duidelikheid oor kwessies wou kry. In ‘n tweede verklaring wat mev. Petersen op 12 Januarie 2007 afgelê het, skets sy haar verhouding met mnr. Fahiem Hendricks (wat die staat aanvoer sy gevra het om die moord te beplan) as ‘n “telefoonverhouding” weens die baie oproepe. Dryden het ook getuig oor ‘n Liberty Life-polis van Taliep van R5,3 miljoen waarvan die egpaar se dogter Zaynab die begunstigde was. Riley het gevra hoe dit uitbetaal sou word. Volgens Dryden sou dit in mev. Petersen se Namibiese bankrekening inbetaal word. Hy het gesê mev. Petersen was die voog, sodat as die polis uitbetaal is, sy beheer daaroor kon uitoefen. in Maart verlede jaar is dokumentasie voltooi vir ‘n trust vir zaynab. Tydens kruisondervraging het adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC, vir mev. petersen, Dryden gevra oor ‘n kussing wat in die moord gebruik is wat nie in die huis gevind kon word nie. “U sal onthou beskuldigde drie (mnr. Waheed Hassen) vertel van ‘n kussing waarin die vuurwapen toegevou is.” Dryden het gesê hy het navrae gedoen, maar kon geen kussing opspoor nie. “Ons het eers ses maande later van die kussing uitgevind,” het hy gesê. Die regter het bygevoeg: “Tensy iemand dit weggesteek het.” Die advokaat het dit ook aan Dryden gestel dat die skoot afgegaan het terwyl mev. Petersen ‘n familielid gebel het. “U het haar getreiter van dag een af.” Dryden het dit ontken en gesê hy is steeds respekvol teenoor haar.

To Top