‘Ons sal polisie se wreedheid nie duld’

ARTICLE BY JASON FELIX / DIE BURGER

KAAPSTAD – Vyf lede van die DA wat ten tyde van ‘n onwettige betoging enkele ure voor pres Jacob Zuma se staatsrede in hegtenis geneem is, het ‘n klag van aanranding teen die polisie aanhangig gemaak. Die vyf, wat by die Woodstock polisiekantoor aangehou is, is die party se nasional woordvoerder, Marius Redelinghuys, en die streekvoorsitter, Shaun August, en Bernard Lotriet, Ricardo Sarauna en Deon Basson. Die vyf is gister omstreeks 01:15 op borgtog van R1000 elk vrygelaat. Hulle het gister op aanklagte in verband met openbare geweld en die hou van ‘n onwettige byeenkoms in Kaapstad-landdroshof verskyn. Sowat honder DA ondersteuners het buite die hof betoog. Die vyf se regsverteenwoordiger, Bruce Hendricks, het in die hof gesê lede van die polisie se eenheid teen openbare geweld het “hardhandig” teen die vyf opgetree. “Hulle het beserings opgedoen tydens die optog in Adderley straat. Marius se ribbes is erg beseer, Shaun se vingers en nek is beseer, en die ander het gesukkel om asem te haal na die beweerde aanrading. Almal is vir skok behandel,” het Hendricks gesê. Hy het ook aangevoer die polisie het twee uur lank met die vyf mans in ‘n polisie patrollievoertuig rondegery voordat hulle na die Woodstock polisiekantoor gebring is. “In die tyd het hul beserings net erger geraak,” het hy gesê. Na die hofverrigtinge het die vyf beskuldigdes ‘n betoging na die Kaapstad polisiekantoor gelei om klagte teen die polisie in te dien. Phumzile van Damme, ‘n DA LP, het gesê die “brutaliteit” teen hul lede sal nie geduld word nie. “Ons het klagte ingedien teen die polisielede se brutaliteit en hardhandige manier waarop hulle opgetree het. Ons optog in Adderleystraat het geen bedreiging vir die staatsrede ingehou nie,” het sy gesê. Volgens Redelinghuys was hy op pad na die parlement toe hy sien hoe polisiebeamptes DA lede rond stamp. “Ek het toe gevra wat hulle doen,” het hy gister aan Die Burger gesê. Die polisie het waterkanonne en knuppels gebruik om die DA lede uiteen te dryf. Redelinghuys het op sy Twitter rpofiel gesê hy moes voor sy hofverskyning eers hospitaal toe gaan om X-straalfoto’s te laat neem omdat hy vermoed het dat hy in die skermutseling ‘n rib gebreek het. Die vyf mans sal op 26 Maart weer in die Kaapstad landdroshof verskyn.

To Top