‘Ons wou nie hê hy moes tronk toe nie’

Die Burger

Artikel deur Jana Breytenbach

Nie een van die mans wat prof. Sean Davison, ’n kampvegter vir genadedood, gehelp het om hul eie lewe te neem se gesinne wou gehad het hy moes vervolg word en tronk toe gaan nie.

Wilma du Pisani, dr. Anrich Burger se ma, Robin Varian, broer van Justin Varian, en Philippa Misplon, suster van Richard Holland, het in beëdigde verklarings die staat gevra om Davison nie te vervolg en tronkstraf op te lê nie.

Davison (58) het gister ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan waarin hy sy rol in die dood van Burger, Varian en Holland beken het.

Hy het tereggestaan op drie aanklagte van moord.

Ingevolge die pleitooreenkoms het die regter-president van die hooggeregshof in Kaapstad, regter John Hlophe, Davison agt jaar tronkstraf opgelê en dit algeheel vir vyf jaar opgeskort, mits hy nie weer aan soortgelyke misdade skuldig bevind word nie.

Hy is voorts drie jaar huisarres opgelê en mag net sy huis in Pinelands verlaat wanneer hy werk of dokter toe gaan of, indien hy gelowig is, ’n geloofsentrum besoek.

Hy moet ’n minimum van 16 uur gemeenskapsdiens per maand doen.

Die departement van korrektiewe dienste sal ook verskeie programme vasstel wat Davison moet voltooi.

Davison is in 2018 in verband met die dood van Burger, sy vriend, in hegtenis geneem nadat hy ’n jaar ná sy dood in 2013 erken het dat hy hom gehelp het om sy eie lewe te neem. Hy het ’n noodlottige dosis dwelms toegedien. Burger was ná ’n motorongeluk verlam.

Daarna is Davison van moord weens Varian se dood op 25 Julie 2015 in Fresnaye aangekla.

Varian het aan motorneuronsiekte gely. Omdat Varian nie kon sluk nie, het Davison ’n sak oor sy kop getrek en helium-deoksigenering toegepas.

In April 2019 is Davison aangekla nadat hy glo vir Holland in November 2015 gehelp het om sy eie lewe in Constantia te neem. Davison het erken hy het ’n noodlottige dosis pentobarbital toegedien.

Ingevolge ’n pleitooreenkoms moet die familie van die oorledenes gekonsulteer word alvorens die ooreenkoms bekragtig kan word.

Du Pisani, Robin Varian en Misplon, namens haarself en Hollard se ouers, het verklarings by die hof ingedien.

Al die partye het die hof gevra om Davison nie te vervolg of tronkstraf op te lê nie.

“My oorlede seun sou nie wou gehad het hy moes vervolg word nie, en ek voel dieselfde. Ek voel die beskuldigde moet nie vervolg word nie omdat my seun wou sterf en die beskuldigde het my seun bygestaan omdat hy nie homself kon doodmaak nie,” lui Du Pisani se verklaring.

Varian het gesê hy het die staat ingelig dat hy nie wou gehad het Davison moes vervolg word nie, omdat “my broer wou sterf”.

Varian het gesê sy broer het vir ’n lang tyd gely en “wou kies wanneer hy wou sterf en hy wou ook met waardigheid sterf”.

Nadat Hlophe die ooreenkoms bekragtig het, het Davison die hofgebou saam met sy vrou, Raine Pan, en een van hul drie kinders verlaat.

To Top