Oudskolier getuig oor skoolhoof

DIE BURGER

Verslaggeefster – Carryn-Ann Nel

KAAPSTAD – ‘n Skoolhoof van ‘n primêre skool wat deur klagte van onsedelike aanranding in die gesig gestaar word, het een middag na skool ‘n leerder op sy skoot laat sit en haar skouers gemasseer, het die streefhof in Parow Dinsdag gehoor. ‘n Oudskolier van The Hague Primêre Skool in Delft het gister in die hof getuig dat hy op die betrokke dag sy twee vriendinne na skoolure vergesel het om ‘n “geskenk” by die hoof se kantoor te gaan haal. Die 17-jarige seun, wie se naam nie genoem mag word nie omdat hy minderjarig is, sê hy het van buite die skoolgebou deur ‘n venster gesien hoe Abrahams een van die twee meisies “wat met haar rug teen sy bors gesit het” se skouers masseer het. Die beskuldigde, mnr. Christian Abrahams (57) van Highbury in Kuilsrivier, het gister deurentyd op ‘n papier notas gemaak terwyl hy in die beskuldigdebank gesit het. Abrahams is verlede jaar uit sy pos as hoof by The Hague Primêre Skool ontslaan nadat verskeie voorvalle van onsedelike aanranding by die Delft-polisiekantoor aangemeld is. Die drie klaers was onderskeidelik 9, 11 en 13 jaar oud toe Abrahams in hegtenis geneem is. Luidens die klagstaat het Abrahams tussen 2005 en 2006 naby die skool die 13-jarige in haar nek gesoen, en/of aan haar borste en/of haar sitvlak gevat en haar onsedelik aangerand. Hy het ook na bewering in die tyd aan die 11-jarige meisie se sitvlak en borste gevat. Sy het glo ook op sy skoot gesit terwyl hy “seksuele bewegings gesimuleer het”. In 2004 het die beskuldigde die 9-jargie meisie glo onsedelik aangerand. Nog drie aanklagte sluit in die vervaardiging van kinderpornografie in 2006 toe hy glo in besit van foto’s van een van die klaers se borste was. Abrahams ontken skuld op alle aanklagte. Volgens die seun het Abrahams die betrokke middag, kort na sy aankoms, gesê hy (die seun) moet rekenaarspeletjies in ‘n ander vertrek gaan speel. “Ek het toe later gaan kyk wat die meisies doen. Ek het harde musiek uit die hoof se kantoor hoor kom. Binne in het die meisies met mekaar gedans en foto’s van mekaar geneem.” Abrahams was nie in die kantoor nie. Een van die klaers het glo ook later die middag ‘n digitale kamera aan die seun gewys waarop foto’s van haar borste was. Adv. Johan Engelbrecht SC, namens Abrahams, het dit aan die getuie gestel dat Abrahams nooit aan hom gesê het om rekenaarspeletjies te gaan speel nie. Die saak is gister om 15:00 verdaag nadat ‘n verhoor gelas is. Die staat moet bewys dat die getuienis van die ondersoekbeampte, sers. Isak Gordon, in die hof aanvaar moet word. Engelbrecht betwis die grondwetlikheid en geldigheid van die lasbrief wat gebruik is om Abrahams se huis te deursoek. Streeklanddros Hennie le Roux het die saak tot vandag uitgestel.

To Top