PERSONEEL VAN KROEG GEDREIG IN RASHERRIE

Die Burger / Carl Thomas

Die eienaars en personeel van die Hank’s Olde Irish-kroeg in Kaapstad word glo gedreig om grond van “ongegronde en onbewese inligting deur derde partye asook beskuldigings,” sê die onderneming in ‘n verklaring.

Die kroeg het die naweek in die spervuur beland nadat ‘n uitsmyter glo vir ‘n swart man gesê het hy kan net by die kroeg ingaan “as ‘n wit mens hom vergesel”. Die uitsmyter was glo self ‘n swart man.

Die video van die konfrontasie waar Christopher Logan (25), vriend van die vermeende slagoffer Thabiso Danca (25), die eienaars van die kroeg aanvat oor die voorval, het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.

Oor-en-weer klagte van aanranding is van albei kante by die Kaapstad-Sentraal polisiekantoor ingedien.

Hank’s sê in die verklaring wat gister teen die kroeg se deur opgeplak was die veldtog het nou tot protesaksie oorgegaan by die kroeg personeel.

“Die perseel, die eienaars en ons personeel het regstreekse dreigemente van intimidasie, geweld, skade aan persone en eiendom ontvang deur invidue wat in die media verklaar het hulle gaan aan die genoemde betoging deelneem.”

Hank’s sê die mense wat aan die protes deelneem, probeer ander aanspoor tot die beskadiging van hul eiendom en geweld teen die kroeg se eienaars en personeel.

Omdat die eienaars en personeel reeds slagoffers van “fisieke aanranding deur die primere inddividu in die video” was, en teen wie klagte by die polisie ingedien is, het hulle in oorleg met die polisie en hul prokureur besluit om nie gister oop te maak nie. Dit is volgens hulle ook in belang van die personeel en van ondermings naby hulle.

Die eienaars het beklemtoon hulle het nog nooit in die afgelope 30 jaar in Kaapstad hul personeel opdrag gegee om op enige grondslag teenoor enige iemand te diskrimineer nie.

“Ons is ook bekommerd oor die welstand en veiligheid van ons personeel. Daarom sal ons geen verdere kommentaar lewer nie terwyl ons voortgaan met ‘n interne dissiplinêre proses met betrekking tot die ernstige bewerings. ‘n Polisieondersoek is ook aan die gang.”

Hank’s vra mense om toe te laat dat behoorlike prosesse gevolg word. Hulle is vol vertroue date die feite al die “vals, aanstootlike en skadelike aantygings” teen hulle verkeerd sal bewys.

‘n Groep van sowat 25 EFF ondersteuners het gister voor Hank’s bymekaargekom om beswaar te maak oor die gebeure. Hulle het ook Sondag voor die toe deure gaan betoog.

Wandile Kasibe, provinsiale woordvoerder, sê Hank’s se bedryfslisensie moet teruggetrek word.

“Geen onderneming wat die opofferings ondermyn van mense wat vir ons vryheid en demokrasie gesterf het, kan ondersteun word in die land nie,” sê hy.

Hulle het egter nog nie met Hank’s se eienaars gepraat nie en beplan ook nie om dit te doen nie.

“Ons het nie tyd om diplomaties met rassiste te werk nie. Hulle het klaar hul kant gekies. Die wet moet nou sy gang gaan en hulle moet gearresteer word. Hulle moet die pyn voel.”

Die EFF sê hulle het na die Suid-Afrikaanse Menseregte kommissie uitgereik om die saak te ondersoek. Hulle het ook nog nie met Danca of Logan gepraat nie, maar “Danca se pyn is ons pyn. Ons wil ook dankie sê aan die wit man wat opgestaan het teen sy eie mense. Dit is die soort karakter wat ons benodig van alle wit mense in Suid Afrika.”

Concerts SA, ‘n gesamentlike Suid-Afrikaanse en Noorse inisiatief wat musiekkonserte in Suid-Afrika ondersteun, het luidens ‘n verklaring hul steun vir konserte by Hank’s opgeskort.

Concerts SA sê hy distansieer hom ten sterkste teen enige beleid of praktyk wat mense benadeel op grond van ras of enige ander gronde.”

Konserte wat deur Concert SA ondersteun word, sal eers weer by Hank’s aangebied word nadat die ondersoek voltooi is en ‘n bevredigende gevolgtrekking bereik is.

Alle konserte wat by Hank’s geskeduleer was, sal na ander persele in Kaapstad verskuif word om die impak op kunstenaars en gehore te versag, lui die verklaring.

Dit is nog nie seker of Hank’s vandag oop sal wees nie.

To Top