Petersens se boedel is insolvent

DIE BURGER

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

NAJWA ‘SKULD MILJOENE’

AL DIE KREDITEURE MOET NOU IN ‘N RY STAAN, Sê PROKUREUR

KAAPSTAD – Mev. Najwa Petersen, weduwee van Taliep Petersen, skuld miljoene rande aan Namibiese inkomstebelasting, haar bank en regskoste. Petersen, wie se verhoor op aanklag van die moord op haar man vandeesmaand in die Kaapse Hooggeregshof hervat word, is diep in die skuld nadat haar en Taliep se boedel insolvent verklaar is, het mnr. Igshaan Higgins, ‘n prokureur van die prokureursfirma De Klerk & van Gend, aan Die Burger bevestig. Petersen is die hoofbeskuldigde in die saak wat op 20 Oktober hervat word vir slotbetoë. Die egpaar is binne gemeenskap van goedere getroud. Daar is dus een gesamentlike boedel. Een van die krediteure aan wie Petersen geld skuld, mnr. Norman Snitcher (haar eerste regsverteenwoordiger in haar verhoor), het luidens ‘n berig in ‘n poniekoerant besluit om sy agterstallige geld in die hande te kry deur een van Petersen se vier huise op te veil. Snitcher het gister aan Die Burger gesê dit is ‘n private aangeleentheid tussen hom en sy kliënt. Higgins het gesê Snitcher se eise sal deur die eksekuteur van haar boedel of prokureurs hanteer word. Volgens hom kan daar nie aan die vaste bates van Petersen geraak word nie. “Die krediteure kan hul eise instel, en dan neem die meester van die hof die verdere besluite.” Higgins het gesê Petersen “skuld baie meer as R1,5 miljoen”. Volgens hom het sy agterstallige regskoste en skuld sy ook miljoene rande aan Namibiese inkomstebelasting. Daar is volgens hom ook verbande op die vaste bates, dus word geld ook aan banke geskuld deur die insolvente boedel. Al die krediteure moet in ‘n ry staan, het hy gesê. Mnr. Igsaan Petersen, Taliep se broer, het bevestig die boedel is bankrot. “Dit is so. Dit is nie iets wat ons kan wegsteek of oor skaam voel nie,” het hy gesê.

To Top