‘Ponzi-skema’ met diamante: Vyf in hof

Die Burger, verslag deur Jana Breytenbach

‘n Beweerde Ponzi-skema waarin met diamante gesmous is, is in die hartjie van die Overstrand oopgevlek.

Onder die beskuldigdes in die saak is ‘n egpaar en hul dogter, asook ‘n vrou wat twee hangende bedrogsake van miljoene rande teen haar het.

Die vyf beskuldigdes het gister in ‘n stampovol landdroshof in Hermanus verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery, asook aanklagte wat verband hou met die lewer van finansieële dienste sonder om geregistreer te wees.

Van reise na Zanzibar saam met ‘n seksafrigter, tot aansluiting by die weermag in Oekraine om in die oorlog te veg, is van die vreemde bewerings wat in die saak gemaak word.

Onder die vermeende slagoffers is glo familielede van die beskuldigdes wat hul ondernemings glo weens die beweerde bedrog verloor het.

Maria van Heerden (63), haar man, Heinrich van Heerden (67), en hul dogter, Cathrine (Claudia) Steynberg) (43), is drie van die beskuldigdes. Michelle Phillips (56), wat haar glo as ‘n prokureur voorgedoen het en verskeie bedrogsake teen haar aanhangig het, en Daniël Steyn (51), wat na bewering saam met Maria gewerk het, het saam met die egpaar en hul dogter in die beskuldigdebank verskyn.

Hulle staan op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal van minstens R4miljoen tereg.

Maria word aangekla van die lewer van finansiële dienste terwyl sy, of haar maatskappye, na bewering nie daarvoor geregistreer was nie.

Die omvang van die bedrog in randwaarde sal waarskynlik verhoog namate die polisie se ondersoek voortduur. Dit kan glo tot R40 miljoen beloop.

Die polisie en die staat voer aan die beskuldigde het verskeie slagoffers onder valse voorwendsels gelok, glo deur ‘n diamant-Ponzi-skema.

Maria het na bewering verskeie slagoffers vertel dat sy vir minstens 20 jaar lank by De Beers as ‘n diamantkonsultant gewerk het en daarom ‘n deeglike kennis van die bedryf het.

Sy het glo ook voorgegee dat sy vir die Nasionale Intelligensiediens gewerk het en ‘n werknemer van IRS Forensic Investigations was. Die maatskappy het homself egter van Maria gedistansieer en voer aan sy het nooit daar gewerk nie.

Maria het na bewering slagoffers omgepraat om te belê in haar maatskappy wat diamente op nasionale en internasionale markte koop en verkoop.

Aubrey Slingers, ‘n privaatspeurder van PI Services 4U, ondersoek die beweerde Ponzi-skema al vir die afgelope drie jaar en sy bewyse is deel van die klagte teen die vyf beskuldigdes.

Hy sê Maria het nooit by De Beers gewerk nie en dat sy en haar man beplan het om in Ghana te gaan werk.

Styen is ook ondersoek en daar is ontdek dat hy in Maart vanjaar aansoek gedoen het om in Oekraine, as deel van hul Vreemdelegioen, te gaan werk.

Die Burger het hierdie aansoek onder oë gehad en die legioen het sy aansoek toegestaan.

Phillips het twee hangende sake, een in die Palm Ridge-streekhof van bedrog ter waarvan van R4 miljoen en ‘n tweede saak in Bellville se handelshof waar bedrog van R7 miljoen ter sprake is.

Sy het glo onder andere deur Maria ‘n paspport bekom terwyl sy op borgtog was en het ‘n seksafrigter na Zanzibar vergesel.

Maria het na bewering ten tyde hiervan geweet die Valke het Philips se paspoort gehad, want sy moes dit indien toe sy op borgtog in die ander twee bedrogsake vrygelaat is.

Phillips het glo ook nooit by die polisie aangemeld in die minstens twee jaar nadat sy op borgtog vrygelaat is nie.

Steyn se betrokkenheid was om glo as regsverteenwoordiger vir Maria op te tree, maar die polisie het bewyse gevind wat hom na bewering ook met die diamant-skema verbind.

Maria, Heinrich en hul dogter is op 9 September in Boksburg in hegtenis geneem en het kort daarna in die landdroshof in Kempton Park verskyn. Hierna is hulle na Hermanus vervoer waar hulle middel September in die hof verskyn het.

Phillips is op 15 September in hegtenis geneem en Steyn die volgende dag.

Tydens gister se verskyning het die egpaar en hul dogter ‘n nuwe prokureur gehad nadat die vorige een hom deur middel van ‘n e-pos onttrek het.

Die landdros het hierop ‘n afskrif van die e-pos versoek, tesame met die nuwe prokureur se prokureur-sertifikaat.

Phillips het ook ‘n nuwe regsverteenwoordiger gehad nadat sy haar vorige prokureur van RegshulpSA se mandaat beindig het.

Styen se regsverteenwoordiger was sigbaar gefrustreerd omdat, soos hy gesê het, hy onder die indruk was dat die beskuldigdes se aansoeke om borgtog gister sou plaasvind.

Die egpaar se prokureur het aangevoer sy kliënte word onwettig aangehou omdat hull enie na hul inhegtenisneming in die Hermanus-landdroshof verskyn het nie, maar in Gauteng. Hy het aangevoer sy kliënte het in die verkeerde jurisdiksie verskyn en dus is hul aanhouding onwettig. Die landdros het egter van hom verskil en gesê ingevolge die Strafproseswet moet enige verdagte binne 48 uur voor enige landdros verskyn, ongeag jurisdiksie.

Die staat het aangedui hy gaan borgtog teenstaan omdat hy meen al die beskuldigdes is vlugrisiko’s en dat hulle die staatsgetuies ken en hulle moontlik kan intimideer.

Die saak is tot 1 Oktober uitgestel wanneer die borgtogaansoek aangehoor sal word.

To Top