Die Burger, verslag deur Jana Breyntenbach
‘n Egpaar wat glo ‘n diamant Ponzi-skema bedryf het, se slagoffers was onder die indruk dat die beskuldigdes van toebroodjies leef en nie eld het vir medikasie nie.
Inderwaarheid het Maria van Heerden (63) egter na bewering in die tyd vir haar man, Heinrich (67), ‘n Harley Davidson gekoop. En net voor die aankope was hulle ook glo op ‘n twee weke lange vakansie in België. Dit terwyl baie van haar beleggers gewag het op uitbetalings.
Maria en Heinrich is twee van vyf beskuldigdes wat in die landdroshof in Hermanus teregstaan op verskeie aanklagte van bedrog, die bestuur van ‘n Ponzi-skema, geldwassery en diefstal van minstens R4 miljoen.
Maria word ook aangekla in verband met die lewer van finansiële dienste terwyl sy, of haar maatskappye, glo nie daarvoor geregistreer is nie.
Die omvang van die bedrog in randwaarde sal waarskynlik verhoog namate die polisie se ondersoek voorduur en nog slagoffers kom daagliks na vore.
Dit kan glo tot R40miljoen beloop. Die ander drie beskuldigdes is die egpaar se dogter, Cathrine (Claudia) Steynberg (43), Michelle Phillips (56), wat na bewering saam met Maria werk, en Daniël Steyn (51), wat as prokureur in Hermanus en in die Kaap gewerk het. Phillips staan tereg in twee afsonderlike sake, een in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg weens bedrog van R4miljoen en een in die handeshof in Bellville weens bedrog van R7miljoen.
Twee van die slagoffers, wie se saak deel vorm van die aanklagte in die Hermanus-saak, het op voorwaarde van anonimiteit met Die Burger gepraat oor hul ervaring en wat die bedrog aan hulle, hul familie en hul onderneming gedoen het.
Die twee slagoffers, ‘n egpaar wat hul eie onderneming in Hermanus bedryf, beweer Maria het ‘n bedrieflike diamant-Ponzi skema bedryf wat hulle en hul familie en vriende tussen Oktober 2022 en Oktober 2023 uit aansienlike bedrae bedrieg het.
Die egpaar het R1,5miljoen belê, wat hulle op verskillende tye in Maria se private bankrekening inbetaal het.
Hul eerste vergadering is glo deur Steyn gefasiliteer en hulle het by die Benguela Cove-wyn-landgoed se restaurant ontmoet.
Volgens die egpaar het Maria haarself geposisioneer as ‘n wettige diamantmakelaar wat as tussenganger tussen kopers en verkopers in die diamantbedryf opgetree het. Volgens die egpaar het Maria glo gesê haar onderneming behels om “diamantpakkies” deur ‘n tenderproses aan te kopers vir aansienlike winste te verkoop.
“Sy het ons verseker daar geen risiko betrokke nie, dat die geld wat ons belê, veilig sal wees,” sê die een slagoffer.
Om meer vertroue en geloofwaardigheid op te bou, het Maria na bewering aan hulle haar agtergrond by De Beers vertel en gesê sy het ‘n lisensie om in die diamantbedryf te werk. Sy het ook glo voorgegee sy is ‘n advokaat wat baie werk in die hooggeregshof doen.
Sy het hulle na bewering vertel dat die onderneming op ‘n streng “goedere-vir-kontant” model werk, wat beteken het dat diamante nooit uitgereik sou word totdat betaling volledig ontvang en geverifeer is in haar bankrekening nie.
Maria het aan hulle glo die drie-vlak-beleggingstruktuur uiteengesit wat beleggers se aspirasies vir groei aangepak het. Die toetreevlak was “Plaaslike Handel” wat ‘n minimum beleggin van R100000 vir binnelandse diamanthandel vereis het. Die volgende vlak was “Internasionale Handel” gebaseer in Dubai, wat R1miljoen vereis het en aansienlik hoër winste as plaaslike handel belowe het. Die uiteindelike doel was handel in Zurich, wat ‘n belegging van R50miljoen vereis het, maar winste gebied het wat Maria beweer het “nie in woorde beskryf kan word nie”.
Die egpaar kon aanvanklik net R40000 belê, wat hulle gedink het problematies vir Maria sou wees omdat die eerste “inkoop R100000 moes wees, maar sy het dit dadelik aanvaar”, sê die een slagoffer.
Maria het hulle glo gereeld ingelig gehou van hoeveel hul beleggings gegroei het en die egpaar het toe nog geld belê, en nie net van hul persoonlike geld nie, maar ook van hul onderneming se geld. Selfs hul kinders het hul spaargeld by Maria belê.
In Augustus 2023 het die egpaar baie bekommerd begin raak toe baie van wat Maria sê, nie gestrook het met die vorige korrespondensie oor hul beleggings nie.
“Sy (Maria) het ander mense begin blameer vir dei vertragings in ons uitbetalings. Ander manse wat haar glo nie betaal het nie en toe ook persoonlike probleme waarmee sy en Heinrich gesukkkel het,” sê die slagoffer.
Sy het in ‘n stadium glo aan die egpaar gesê hulle sukkel ook geldelik en “het nie eens geld vir toebroodjies of Heinrich se medikasie nie”. Sy het na bewering aan hulle gesê Heinrich het Alzheimer se siekte.
Hierna het sy kommunikasie geblokkeer, maar die egpaar was vasberade om uit te vind waar hul geld is.
Aubrey Slinger, private speurder van PI Services 4U, ondersoek die beweerde Ponzi-skema al die afgelope drie jaar en sy bewyse is deel van die klagte teen die vyf beskuldigdes. Maria het volgens hom nooit by De Beers gewerk nie en is ook nie ‘n advokaat soos wat sy voorgegee het nie.
Hy het in sy ondersoek bevestig Maria het die motorfiets gekoop en ook glo vir eiendom betaal.
Slinger het die diamant-Ponzi-skema oopgevlek en sake by die polisie aanhangig gemaak, met die gevolg dat die beskuldigdes vroeër in September in hegtenis geneem is.