Die Burger, verslag deur Maygene de Wee
In ‘n polisieoperasie Sondag by ‘n huis in Moltenostraat in Goodwood, Kaapstad, het lede van die polisie op heroien en tik van meer as R54 miljoen beslag gelê.
Dit is die tweede groot vonds in die Kaapse Skiereiland sedert 10 Junie.
In die ander voorval, op 10 Junie, het lede van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid op kokaien van swat R18 miljoen in ‘n stoorplek beslag gelê.
Twee mense, Raed Cupido (40) en Christopher Carelse (37), is tot dusver in verband met die dwelmvonds in hegtenis geneem.
Lt. kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het gister gesê die polisie het ‘n wenk ontvang dat daar moontlik dwelms by ‘n huis in Moltenostraat is. Daar gekom, het hulle met die deursoeking van die huis 6kg heroien in ‘n kas in een van die slaapkamers gevind. Die bewonder van die kamer, ‘n 32-jarige Tanzaniese burger, is in hegtenis geneem. Hy sal in die hof verskyn op aanklag van handel in heroien met ‘n geraamde straatwaarde van byna R1 miljoen.
Nog ‘n slaapkamer is deurgesoek waar die polisie op nog sowat 100g heroien afgekom het. Die heroien het volgens Pojie ‘n geskatte straatwaarde van sowat R16000. ‘n Burger van Burundi (28) is in hegtenis geneem.
Die polisielede het toe inligting ontvang dat daar nog dwelms in die huis versteek is. Die soektog het hulle na die dak van die huis geneem waar hulle 145kg tik en 16kg heroien gevind het.
Volgens die polisie word die waarde van die dwelms wat in die dak gevind is op sowat R54,3 miljoen geskat. Pojie sê die totale straatwaarde van die dwelmvonds is sowat R54,3 miljoen.
Die mans wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting vandag in die landdroshof in Goodwood verskyn.